Nuus 07:00
BULLETIN 17 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daniel Silke sê die agteruitgang van die SA-VSA-verhouding is kommerwekkend
# ArcelorMittal het 3,1-miljard-rand nodig om werksgeleenthede te red
# En Donald Trump stuur ‘n grootskaalse aanval teen Jemen se Houthi’s van stapel
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê dis kommerwekkend om die verbrokkelende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA dop te hou. Dit volg nadat Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, as persona non grata verklaar en uit die land gesit is. Hy het president Donald Trump tydens ‘n webinaar beskuldig dat hy die leier van ʼn wit heerssugtige beweging is. Silke sê Rasool moes van beter geweet het as om die verkeerde knoppies te druk terwyl ekonomiese en politieke bande slim hanteer moet word:
Silke sê voorts Trump se beskuldigings teen Suid-Afrika se plaaslike beleid, al is dit ongegrond, moes met groter diplomasie hanteer word. Silke sê die land kan nie bekostig om Amerika verder die harnas in te jaag nie:
# ArcelorMittal South Africa soek volgens berigte ʼn reddingsboei van 3,1-miljard-rand om te keer dat sy aanlegte in Vereeniging en Newcastle sluit, wat sowat drie-duisend-500 werksgeleenthede verlore sal laat gaan. Onderhandelinge met die regering het tot dusver niks opgelewer nie. Die Sunday Times berig die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging oorweeg opsies om steeds langstaalprodukte in die land te vervaardig indien ArcelorMittal nie langer die aanlegte kan bedryf nie. Die departement sê onderhandelinge met die maatskappy gaan voort.
# Die Stad Tshwane sê hy sal nie dade van sabotasie teen die stad se noodsaaklike infrastruktuur duld nie en sal steeds sterk teen misdadigers optree. Die metropolisie se kabeldiefstaleenheid het verlede week ses verdagtes in hegtenis geneem na hulle betrap is toe hulle die Fouriesburg-substasie betree het deur ‘n duplikaatsleutel te gebruik. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, sê kabeldiefstal en vandalisme aan infrastruktuur het regstreekse gevolge vir gemeenskappe:
# Donald Trump het gister grootskaalse militêre aanvalle op Jemen se Iran-verbonde Houthi’s uitgevoer oor die groep se aanvalle op skeepsvaart in die Rooisee. Minstens 31 mense is reeds dood in die veldtog wat na verwagting baie dae kan duur. Trump het ook Iran, die grootste ondersteuner van die Houthi’s, gewaarsku om onmiddellik op te hou om die groep te help. Reuters berig volgens ‘n Amerikaanse amptenaar kan die aanvalle weke duur. Dit is Amerika se grootste militêre operasie in die Midde-Ooste sedert Trump in Januarie president geword het.
# Tennis: Die Britse nommer een, Jack Draper het die Deen, Holger Rune, geklop om die grootste titel van sy loopbaan, die Indian Wells Meesters, te wen. Die 23-jarige Draper het in slegs 68 minute met 6-2, 6-2 gewen om sy eerste ATP 1000 Meesters-titel op te raap. In die vroueafdeling het die 17-jarige Rus, Mirra Andreeva, haar tweede agtereenvolgende 1000-titel behaal nadat sy die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, in die eindstryd verslaan het. Draper sê hy is trots op sy prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-974-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-991-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….