Nuus 07:00
BULLETIN 15 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika verklaar SA se ambassadeur persona non grata in opmerking op sosiale media
# Project Big-Bang verminder OTM-bomaanvalle met 30,7-persent
# En rugby: Skotland wil Franse partytjie in Parys beëindig
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het Ebrahim Rasool, Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, tot persona non grata verklaar. Rubio het op die sosiale mediaplatform X gesê Rasool is ‘n ras-uitlokkende politikus wat Amerika en president Donald Trump haat. Rubio se kommentaar volg op nuusberigte in Washington oor ‘n lesing wat Rasool gister gegee het voor ‘n Suid-Afrikaanse dinksentrum, waarin hy beweer het Trump lei ‘n globale wit-heerssugtige beweging. Die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington en die Suid-Afrikaanse regering was nog beskikbaar vir kommentaar nie.
# Die jongste verslag deur ‘n bedryfs-wye taakspan, Project Big-Bang, dui aan OTM-bomaanvalle in Suid-Afrika het tussen November 2024 en Januarie 2025 met 30,7-persent verminder. Die inisiatief is in Mei 2024 gestig en het tot 46 arrestasies gelei. Verder is daar beslag gelê op plofstof, voertuie, vuurwapens en 400-duisend-rand-kontant in note wat met kleurstof gemerk is. Die projekbestuurder, Mischa Theron, skryf die sukses toe aan samewerking en data-gedrewe intelligensie. Sy sê die projek het ‘n presedent geskep vir toekomstige misdaadvoorkomingspogings in Suid-Afrika.
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Bantu Holomisa, beklemtoon die behoefte aan ‘n versigtige en gefaseerde onttrekking van die soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo, ná ‘n besluit deur SAOG-leiers. Holomisa sê die proses kan maande duur en sal onderhandelinge met M23-rebelle behels om veilige deurgang te verseker. Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om bestendigheid in die streek te verseker en sê die onttrekking is nie as gevolg van vrees of ‘n gebrek aan hulpbronne nie:
# Rugby: Die Skotse losskakel Finn Russell sê ‘n kans om vandag ontwrigting te saai en Frankryk te ontneem van sy poging om die Sesnasies-titel te beklink, dien as die span se aansporing. Skotland kan Frankryk se tweede Sesnasies-oorwinning binne vier jaar op die Stade de France omvergooi, met Engeland en Ierland wat hoop om vroeër in die dag druk op Les Bleus te plaas. Die besoekers se kans op die titel is omtrent neusie verby oor hulle lae punte teenoor dié van Frankryk, maar Russell hoop hulle kan die pret in die Franse hoofstad versuur.
# En die Kaapstadse Karnaval skud sy vere reg om vandag te skitter op die viering van sy 15de herdenking met meer as ‘n duisend kunstenaars wat reuse-sierwaens en ingewikkelde kostuums tentoonstel. Die parade sal Groenpunt en Somersetweg verlig, en ‘n vermaaklikheidsdorp sal musiek en kosstalletjies aanbied. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith sê die geleentheid kan gratis besigtig word, met BBP-sitplekke beskikbaar vir ‘n spesiale ondervinding:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….