Nuus 07:00
BULLETIN 14 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika bly onpartydig in die Russies/Oekraïnse konflik
# President Putin stem voorwaardelik in tot ‘n skietstilstand
# En OUTA doen ‘n beroep op die regering om die MIV/Vigs-befondsingsgaping te oorbrug
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika bly vasbeslote in sy onpartydige benadering, maar is gereed om enige hulp te bied om die Russies-Oekraïnse oorlog te beëindig. Oekraïne het Amerika se voorstel van ‘n skietstilstand van 30 dae aanvaar, terwyl Rusland voorbehoude het. Ramaphosa het gister in Kaapstad by die 8ste beraad tussen Suid-Afrika en die Europese Unie gesê die konflik kan deur onderhandeling opgelos word:
Die Russiese president, Vladimir Putin, sê intussen hy stem saam met die voorgestelde skietstilstand, maar sê hy het sekere voorbehoude. Die skietstilstand wat Amerika voorgestel en Kiev aanvaar het, dek die hele frontlinie en nie net lug en see nie. Putin sê die skietstilstand moenie gebruik word sodat Oekraïne kan herbewapen vir verdere konfrontasie nie. Hy sê die beëindiging van vyandelikhede moet tot blywende vrede en die verwydering van die oorlog se onderliggende oorsake lei.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering moet die befondsingsgaping in die MIV/Vigs-programme dringend aanspreek nadat die VSA sy steun gestaak het. Die organisasie waarsku begrotingsbeperkings kan toegang tot behandeling in gevaar stel vir die miljoene mense wat staatmaak op antiretrovirale behandeling. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, vra die regering om doeltreffende besteding voorop te stel en vermorsing te verminder om volhoubare gesondheidsorgbefondsing te verseker:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, het bevestig die Suid-Afrikaanse Hernubare-energie Meesterplan vorder deur die kabinetskomitee-proses en sal hierdie maand aanvaar word. Graham-Maré het by ‘n EE Business Intelligence-webinaar die plan se belangrikheid om Suid-Afrika se hernubare-energiesektor te bevorder, beklemtoon. Sy sien die meesterplan as krities belangrik om Suid-Afrika as ‘n sleutelverskaffer van hernubare-energiekomponente reg oor Afrika te posisioneer.
# Die DA in Gauteng sê die regstelsel moet versterk word om seker te maak oortreders van geslagsgeweld word aanspreeklik gehou en kry te doen met die volle mag van die wet. In antwoorde op die party se vrae in die Parlement, het dit aan die lig gekom die skuldigbevindingskoers in die 793 geslagsgeweldsake by die Vosloorus-polisiekantoor was slegs 1,13-persent. Haseena Ismail van die DA sê dit ontbloot die sistemiese mislukkings wat geslagsgeweld in die samelewing laat voortduur:
# Krieket: Die snelbouler Mark Wood het ‘n operasie vir ‘n kniebesering ondergaan wat hom moontlik hierdie seisoen uit al Engeland se tuistoetse sal hou. Hy sal beslis nie voor die einde van Julie beskikbaar wees nie, maar sal hopelik kan speel wanneer die reeks om die As in November in Australië begin. Wood bestuur die besering nou al ‘n jaar lank, maar dis vererger gedurende die Kampioenetrofee. Hy het onlangs teruggekeer nadat ‘n elmboogbesering hom sedert Augustus verlede jaar op die kantlyn gehou het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-666-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-987-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….