Nuus 07:00
BULLETIN 13 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en EFF verwerp die begroting
# Minister Hlabisa sê daar is ‘n geleentheid vir verandering in plaaslike regering
# En die Britse premier is teleurgesteld in Trump se wêreldwye tariewe
# Die MK-party verwerp die begroting ten sterkste, veral die verhoging in BTW met een-persent oor die volgende twee jaar. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het die nasionale begroting gister in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê. Die MK-party se adjunkpresident, John Hlophe, sê wat nodig is, is ‘n onmiddellike verskuiwing na ‘n dapper begroting wat mense eerder as wins en ontwikkeling eerder as skuld vooropstel:
Die EFF sê intussen die regering van nasionale eenheid het nie meer idees om staatsfinansiering te genereer nie. Partyleier Julius Malema het onderneem om enige BTW-verhoging teen te staan nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die verhoging aangekondig het. Malema het ook die besluit gekritiseer om nie die kerwe vir persoonlike inkomstebelasting aan te pas nie. Hy het belowe dat die EFF sal aandring op begrotingswysigings:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1998 is ‘n geleentheid om die stelsel van plaaslike regering in totaal te heroorweeg. Talle plaaslike owerhede staar uitdagings in die gesig, insluitend finansiële wanbestuur, politieke inmenging, en vermoë- en vaardigheidstekorte. Hlabisa sê omvattende beraadslagings oor die witskrif sal die tekortkominge in plaaslike regeringsbeleid en instelling aanspreek, terwyl dit gepaste aanbevelings maak om struikelblokke te oorkom. Hy sê die hersiening sal ook die befondsingsmodel vir munisipaliteite evalueer.
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, is vandag gasheer vir die eerste beraad van die Nasionale Stelsel vir Innoveringstransformasie in Boksburg. Die tweedaagse beraad sal Suid-Afrika se vordering bepaal met die transformasie van sy innoveringslandskap ná apartheid. Sleutelbesprekings sal kyk na die redes waarom transformasiepogings te kort geskiet het en hoe om inklusiewe wetenskaplike ontwikkeling te versnel. Die beraad sal ook gelykheid, industrialisering, groen ontwikkeling en entrepreneurskap aanspreek in die vestiging van Suid-Afrika se toekomstige innoveringstelsel.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer sê hy is teleurgesteld dat staal- en aluminium-uitvoere na Amerika nou onderhewig is aan tariewe. Die wêreldwye tariewe het Woensdag van krag geword met ‘n vaste heffing van 25-persent op staal en aluminium wat Amerika binnekom. Dié stap deur president Donald Trump is gemik op die beskerming van Amerikaanse vervaardiging en die skepping van werksgeleenthede deur buitelandse produkte minder aanloklik te maak. Starmer sê Brittanje beplan nie vergeldingstappe nie:
# Rugby: Marcus Smith is as heelagter ingesluit in Engeland se laaste wedstryd van die Ses Nasiesreeks Saterdag teen Wallis in Cardiff speel. Die Harlequins-spelskepper het die kampioenskap op losskakel begin maar was op die reserwebank vir verlede naweek se wedstryd teen Italië op Twickenham wat Engeland met 47-24 gewen het. Smith het as heelagter opgekom en ‘n drie gedruk. Hy het in die posisie gespeel in die wedstryde teen Frankryk en Skotland. Elliot Daly skuif na linkervleuel en Tom Roebuck begin sy eerste opdrafwedstryd as regtervleuel. Tommy Freeman, wat vleuel was teen Italië, skuif na buite-senter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-694-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-938-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….