Nuus 07:00
BULLETIN 12 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF sê Suid-Afrika het ‘n meer ambisieuse fiskale konsolidasie nodig
# AfriForum versoek die minister van Finansies om die ANC se druk vir belastingverhogings te verwerp
# En ‘n man word gearresteer weens growwe nalatigheid ná die Noordsee-ramp
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê om Suid-Afrika se finansiële volhoubaarheid te beskerm, is ‘n meer ambisieuse fiskale bestendiging nodig om skuld te verminder. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal vandag sy begrotingsrede lewer. Die IMF se verteenwoordiger in Suid-Afrika, Tidiane Kinda, het Dinsdag by ʼn webinaar gepraat wat deur die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Besinning aangebied is. Hy stel voor die regering verminder staatsondernemings se bedryfskoste deur hervormings:
AfriForum vra intussen vir Godongwana, om vandag die ANC se versoek vir belastingverhogings in sy begroting te verwerp. Die burgerlike organisasie, ekonome en sakeleiers vra eerder verlagings in staatsbesteding as belastingverhogings. Louis Boshoff van AfriForum vra die kabinet moet verklein, staatsampsdraers se salarisse verminder, verkwistende uitgawes besnoei en staatsinstellings geprivatiseer word om belastingbetalers se las te verlig:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is ontsteld dat al die provinsiale gesondheidsdepartemente, behalwe die Wes-Kaap, die Nasionale Gesondheidslaboratorium byna nege-miljard-rand skuld. Die vereniging waarsku die laboratoriumdienste wat meer as 80-persent van die bevolking dien, gaan gebuk onder finansiële druk, personeeltekorte en begrotingsinkortings, wat noodsaaklike dienste soos teengifproduksie en MIV-behandeling vir meer as een-miljoen pasiënte in gevaar stel. Claude Naiker van die vereniging doen ‘n beroep op die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi om in te gryp.
# Die EFF in Gauteng vra die onmiddellike skorsing en strafregtelike vervolging van die Lesedi-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Sibusiso Dhlamini. Hy word volgens berigte beskuldig van seksuele teistering en magsmisbruik teen ʼn junior personeellid. Dumisani Baleni van die EFF sê Dhlamini maak bewerings teen die personeellid op en probeer dit gebruik as rede vir haar afdanking. Hy sê dit gebeur selfs nadat die Bedingingsraad beslis het die bewerings is onwaar en onregverdig:
# ʼn Nege-en-vyftigjarige man is gearresteer vir beweerde growwe nalatige manslag in verband met Maandag se botsing in die Noordsee tussen ʼn vragskip en olietenkskip. Die Solong-vragskip onder die Portugese vlag het langs die Britse kus teen die Amerikaans-geregistreerde Stena Immaculate gebots wat brandstof namens die Amerikaanse weermag vervoer het. Een bemanningslid is dood en 36 is gered. Die Humberside-polisie in Brittanje sê ʼn strafregtelike ondersoek is aan die gang.
# Krieket: Die Protea-vrouespan neem volgende maand deel aan ʼn eendag-toetsreeks teen Sri Lanka en Indië in Colombo. Dit sal dien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbeker in Indië later vanjaar. Dit sal ook die eerste keer sedert 2017 wees dat Suid-Afrika na Sri Lanka reis toe die destydse Wêreldbeker-kwalifiseerders – die Proteas – in die eindstryd met een paaltjie teen Indië verloor het. Afrigter Mandla Mashimbyi sê hulle sal kan bepaal watter kombinasies werk die beste vir die toestande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-311-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….