Nuus 07:00
BULLETIN 10 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Mededingingswet kan nie gebruik word om ‘n gesondheidsbeleidsraamwerk te vestig nie
# Die Suid-Afrikaanse Korrektiewe Dienste-werkersvakbond eis regverdige salarisverhogings
# En krieket: Indië klop Nieu-Seeland en wen die derde Kampioene-trofee
# Die DA sê hy glo nie die voorgestelde blok uitsluitingsregulasies sal hul doel bereik om pryse in die privaat sektor meer bekostigbaar te maak nie. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het verlede maand die konsepregulasies gepubliseer wat privaat gesondheidsorg toelaat om pryse as ‘n kollektief vas te stel – iets wat die Wet op Mededinging tans verbied. ʼn DA-woordvoerder, Michele Clarke, sê hierdie wet kan nie gebruik word om ʼn gesondheidsbeleidsraamwerk saam te stel, wat parlementêre oorsig omseil nie:
# Die Suid-Afrikaanse Korrektiewe Dienste-werkersvakbond doen ‘n beroep op hulle departement om die uitstaande 1,5-persent salarisvordering vir alle werkers wat daarvoor kwalifiseer in te stel. Die algemene sekretaris Zanethemba Ndamane sê die departement het ook nie graadvordering in Julie 2024 ingestel nie, wat keer dat lankdienende werknemers vorder. Sy eis onmiddellike optrede en onderneem om Korrektiewe Dienste aanspreeklik te hou totdat alle lede die voordele kry wat hulle toekom:
# Die EFF in Gauteng eis dat die Lesedi-munisipaliteit se finansiële hoof, Gugulethu Mncube, onmiddellik verwyder word. Sy is in Julie verlede jaar aangestel. EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê Mncube voldoen nie aan die minimum bevoegdheidsvereistes soos uiteengesit in die Wet op Finansiële Bestuur en sy Munisipale Regulasies oor Minimum Bevoegdheidsvlakke nie. Hy sê Mncube se aanstelling is blykbaar ʼn versigtig beplande poging om haar as finansiële hoof aan te stel ten spyte van haar gebrek aan kwalifikasies:
# Sirië se tussentydse president, Ahmad al-Sharaa, vra nasionale eenheid ná dodelike skermutselings tussen veiligheidsmagte en soldate wat lojaal is aan oudpresident Bashar al-Assad se regime. Meer as ʼn duisend mense, insluitend 745 burgerlikes, is die afgelope dae dood wat een van die hoogste sterftesyfers sedert 2011 in Sirië is. Die land se presidensie het aangekondig ʼn onafhanklike komitee sal saamgestel word om die oortreders agter die aanvalle op burgerlikes te identifiseer en ondersoek. Al-Sharaa beskryf die skermutselings as verwagte uitdagings.
# Krieket: Indië het Nieu-Seeland in Dubai met vier paaltjies getroef om die Kampioene-trofee ʼn derde keer te wen. Daryl Mitchell het 63 aangeteken terwyl die All Blacks 251 vir sewe behaal het, met Kuldeep Yadav en Varun Chakravarthy wat elkeen twee paaltjies platgetrek het. In antwoord daarop spog kaptein Rohit Sharma en Shubman Gill met ʼn aanvangsvennootskap van 105 lopies, en Indië wen met ses balle wat oorbly. Sharma sê hulle speel in alle formate regtig goeie krieket:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-647-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-5-sent per vat.
# En laastens: Die Markteater-stigting beskryf die bekroonde Suid-Afrikaanse dramaturg, akteur en regisseur, Athol Fugard, as ʼn reus wat die land se toneelskrywery wêreldwyd bekend gemaak het. Die 92-jarige Fugard is na ʼn lang siekbed by sy huis in Stellenbosch dood. Die Oos-Kaapse skrywer se werk sluit in Blood Knot, Tsotsi en The Island. Die Sentrum vir Kreatiewe Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal loof Fugard se groot bydrae tot Suid-Afrikaanse teater en voeg by sy dramas sal geslagte lank ʼn nalatenskap wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….