Nuus 07:00
BULLETIN 8 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gaan sy noodreserwes aanvul te midde van fase 3-beurtkrag
# Trump lieg weer oor Suid-Afrikaanse plase wat afgeneem word en bied gevestigde boere vlugtelingstatus aan
# En gholf: Nadia van der Westhuizen palm die SuperSportvroue-uitdaagtitel in
# Eskom het planne aangekondig om oor die naweek sy noodreserwes aan te vul en die netwerk bestendig te kry terwyl fase 3-beurtkrag sal voortduur. Koeberg in Kaapstad se eenheid-2 is steeds vanlyn en twee eenhede van Kusile in Mpumalanga word deur steenkoolvoorsieningskwessies geraak ná ongunstige weerstoestande. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê bykomende ingenieurs word ingespan om die herstelwerk te bespoedig. Sy sê ses-duisend-200-MegaWatt sal na verwagting Maandag teruggeplaas word:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het die leuen herhaal dat Suid-Afrikaanse plase afgeneem word. Hy het weer op sy Truth Social-platform vlugtelingstatus aangebied vir boere en hulle families wat vir veiligheid uit die land wil vlug. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die presidensie sal nie deelneem aan teenproduktiewe megafoon diplomasie nie. Hy sê die land streef na ‘n wederkerig-voordelige politieke, handels- en diplomatieke verhouding met die Trump-administrasie. Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, het intussen aan News24 gesê Trump se uitsprake stem nie ooreen met wat hy beleef nie.
# Miljoene inwoners van Australië se ooskus maak gereed vir die sterkste tropiese sikloon wat die streek in die laaste 50 jaar bedreig het. Daar word verwag dat Tropiese Sikloon Alfred hierdie naweek die vasteland sal bereik met die sterkte van ‘n Atlantiese tropiese storm. Die sikloon het alreeds gevaarlike golwe langs die kus veroorsaak, insluitende ‘n golf wat 12,3 meter hoog was. Amptenare waarsku miljoene inwoners moet hulle gereed maak vir verwoesternde rukwinde, vloedwater en storms wat gelyktydig saam met hooggetye kan voorkom.
# Gholf: Nadia van der Westhuizen het die SuperSportvroue-uitdaging by Sun City se Gary Player-buiteklub gewen. Sy het met een hou geseëvier ondanks ‘n uitdagende laaste ronde en drie onder syfer geëindig. Kaiyuree Moodley was tweede op twee onder, terwyl Casandra Alexander derde geëindig het. Van der Westhuizen beskryf die baan as brutaal maar sê die oorwinning was spesiaal en het haar selfvertroue verbeter nadat sy verlede jaar die Vroue-Europese Toer misgeloop het:
# En om mee af te sluit, die Departement van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede herdenk vandag Internasionale Vrouedag onder die tema ‘versnelde aksie‘. Die geleentheid word gevier op die 30ste herdenking van die Beijing-verklaring oor vroueregte en die Verenigde Nasies se 2030-doelwitte vir volhoubare ontwikkeling oor die laaste vyf jaar. Die ministerie se woordvoerder, Nompendulo Mkhatshwa, versoek sterker beleide rondom finansiële insluiting, werkplekbeskerming en gelyke geleenthede vir vroue. Vroue beklee tans 46-persent van die Parlementêre setels en 43-persent van die kabinetsposte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….