Nuus 07:00
BULLETIN 6 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ouditeur-generaal ondersoek die MK-party se klagtes oor die uitstel van die begroting
# Die EFF beskuldig minister Mchunu dat hy Ramaphosa beskerm
# En die VSA onderbreek die deel van intelligensie met Oekraïne
# Die Ouditeur-generaal het bevestig hy gaan ‘n versoek van die MK-party oorweeg vir ‘n ondersoek na die koste weens die uitstel van die begrotingsrede. Dit sal skriftelik en in ooreenstemming met sy regulatoriese prosedure gedoen word. Woordvoerder Harold Maolka sê die Hoofstuk Nege-instelling doen gereeld oudits van die Parlement en staatsdepartemente en maak seker sy oudits is regverdig en onpartydig:
# Die EFF sê die Polisie-minister, Senzo Mchunu, se weiering om die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se verslag oor die Phala Phala-sage bekend te maak, is ‘n doelbewuste poging om te keer dat president Cyril Ramaphosa aanspreeklik gehou word. Minister Mchunu het gesê die OPOD-verslag oor die Amerikaanse dollars wat in 2020 op Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo gesteel is, is as hoogs geheim geklassifiseer en sal nie bekendgemaak word nie. Die EFF sê die minister se weiering is ʼn belediging vir demokrasie en ʼn direkte aanslag op deursigtigheid en aanspreeklikheid.
# Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid het ‘n landswye veiligheidsoudit vir vissersbote aangekondig by Gqeberha-hawe. Die viermaande-veldtog beoog om veiligheid in die kommersiële visvangsektor te versterk. Dit wil die nakoming van maritieme regulasies bepaal, risiko’s identifiseer vergeleke met die ouderdom van bote en instandhouding, en die hantering van noodsituasies. Bote wat voorheen in insidente betrokke was of voor 1998 geregistreer is sal ook geoudit word. Die owerheid sal ook ‘n plan vir veiligheidsverbeterings ontwikkel om toekomstige risiko’s te verminder.
# Numsa sal vandag ‘n optog na die Stad Tshwane se kantore lei om ‘n memorandum van eise aan burgemeester Nasiphi Moya te oorhandig. Die vakbond vra die stadsraad om sy belofte na te kom aan werkers wat by Tshwane Affected Operations Investments afgelê is nadat die kontrak met die busoperateur verlede jaar beëindig is. Phakamile Hlubi-Majola van Numsa beweer die stadsraad het nie ontslagpakkette uitbetaal of die 261 werkers elders aangewend nie, en hulle sonder inkomste gelaat om te sorg vir hulle gesinne:
# Amerika se nasionale sekerheidsraadgewer, Mike Waltz, het bevestig dat president Donald Trump nie meer sekere intelligensie met Oekraïne deel nie. Dit volg pas nadat Amerika militêre hulp aan Kiev voorlopig gestaak het. Amerika het Oekraïne van intelligensie voorsien sedert die oorlog in 2022 begin het. Dit sluit uitgebreide inligting oor Russiese magte se beweging en posisies in, asook onderskepte kommunikasie oor hul militêre planne en spioene se bewegings. Waltz sê hulle hersien alle aspekte van Amerika se verhouding met Oekraïne.
# Gholf: Verlede week se SA Ope-kampioen, Dylan Naidoo, lei ʼn sterk veld by die Johannesburg Ope, wat vandag by die Houghton-gholfklub afslaan. Die ervare Darren Fichardt is terug en wil slegs die derde speler word wat die toernooi meer as een keer wen nadat hy dit ook in 2017 opgeraap het. Ander voormalige kampioene op die veld sluit in Dan Bradbury, George Coetzee, Shubhankar Sharma en Haydn Porteous. Naidoo sê hy wil goed doen in hierdie toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-361-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….