Nuus 07:00
BULLETIN 29 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa het die land se immigrasiewette met koning Misuzulu Zulu bespreek
# Die SAKP sal nie aan die teen-immigrasie-betogings deelneem nie
# En krieket: Die Proteas-vrouespan is deur na die T20 Wêreldbeker-halfeindronde
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep op koning Misuzulu Zulu gedoen om vreedsame betogings aan te moedig onder diegene wat bekommerd is oor onwettige immigrasie. Hy het die koning gister by die amptelike presidentswoning in Pretoria ontvang. Die Presidensie sê die ontmoeting is deel van die regering se voortgesette beraadslaging met rolspelers en maatskaplike vennote om ʼn gekoördineerde en wettige reaksie op migrasie te versterk. Ramaphosa het die regering se verantwoordelikheid om immigrasiewette verantwoordelik toe te pas, beklemtoon. Hy sê geen individu mag ʼn ander persoon voorkeer om dokumentasie of bewys van burgerskap te eis nie.
Die sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Mapaila, het intussen bevestig die party sal nie aan môre se nasionale teen-immigrasie-betogings deelneem nie. Mapaila het betogings wat op ander Afrika-burgers gemik is, veroordeel en gesê hulle moet voel dat hulle op die vasteland hoort. Hy sê Suid-Afrika se uitdagings spruit voort uit kapitalisme en korrupsie, nie Afrika-migrante nie. Hy sê mede-Afrika-burgers of die werkersklas moet nie die skuld kry vir die land se ekonomiese krisis nie:
#Die MIV- en VIGS-gemeenskapsnetwerk van Suider-Afrika het ‘n beroep gedoen op beter nasionale data oor dwelmgebruik en gewaarsku dat swak inligting doeltreffende beleidmaking beperk. Yolaan Andrews van NACOSA sê die huidige syfers weerspieël nie die omvang van dwelmgebruik of die dienste wat benodig word korrek nie. Andrews sê die desentralisering van dienste deur klinieke en gemeenskapsprogramme kan die insameling van bewyse verbeter. Sy het beklemtoon dat dit owerhede sal help om dwelmtendense, voorkoms en ingrypingsbehoeftes beter te verstaan, veral onder jongmense en ander kwesbare groepe.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, het kommer uitgespreek oor korrupsie met leerdervervoer. Dit volg ná ʼn omvattende interne assessering wat korrupsie, finansiële wanbestuur en bestuursmislukkings by provinsiale staatskole onthul het. Maile sê daar is prima facie bewyse dat sommige diensverskaffers ʼn wanvoorstelling verskaf van die gehalte, hoeveelheid en toestand van voertuie wat leerders vervoer. Hy sê leerdervervoer-kontrakte sal strenger geoudit word. Dit sal onmiddellik gestaak word indien diensverskaffers voertuie oorlaai of hul getal voertuie verkeerd aandui:
# Israel se minister van Buitelandse Sake, Gideon Sa’ar, sê Hisbolla moet ontwapen word voordat vrede en sekuriteit in Libanon bereik sal word. ʼn Raamwerkooreenkoms wat deur Amerika gefasiliteer is, is Vrydag tussen Israel en Libanon onderteken. Ten spyte van die ooreenkoms, het gevegte tussen Israelse magte en die Iran-ondersteunde Hisbolla in die suide van Libanon voortgegaan. Sa’ar sê dis Iran en Hisbolla wat Libanon se soewereiniteit skend:
# Die Protea-vroue is deur na die T20 Wêreldbeker vir vroue se halfeindronde, maar Indië is uitgeskakel. Suid-Afrika, wat in die vorige twee toernooie die eindstryd gehaal het, het Bangladesj met vier paaltjies verslaan in hul laaste groepwedstryd op Lord’s. Hulle het die halfeindronde gehaal nadat die sesmalige kampioene, Australië, Indië met ses paaltjies verslaan het. In die halfeindronde takel Australië, wat tot dusver onoorwonne is, Dinsdag die Wes-Indies terwyl Suid-Afrika en Engeland Donderdag sake sal uitspook.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-200-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-60-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….