Nuus 07:00
BULLETIN 5 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê hy versterk sy organisatoriese vermoëns
# Die DA sê die geringe groei in die BBP wys die ekonomie is in ‘n krisis
# En Kanada gaan die Amerikaanse tariewe by die Wêreldhandelsorganisasie betwis
# Die ANC sê hy verwerp pogings om die party as verdeeld te beskryf deur vals bewerings van afgradering van posvlakke en bevorderings in ampte. Die party het sy nasionale strukture hersaamgestel deur lede van die nasionale uitvoerende komitee na provinsies en subkomitees te ontplooi. Die veranderinge sluit in die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, wat as voorsitter van die komitee vir ekonomiese hervorming verwyder is en die Vervoerminister, Barbara Creecy, wat aangestel is as voorsitter van die wetgewer- en bestuurskomitee. Die ANC sê die hersamestelling bevestig sy verbintenis om sy organisatoriese vermoë te versterk.
# Die DA sê die vierde kwartaal van 2024 se swak groei van 0,6-persent in bruto binnelandse produk is ‘n waarskuwing dat die land se ekonomie verder sal verswak tensy drasties opgetree word. Statistiek Suid-Afrika skryf die groei onder andere toe aan ʼn toename van 17,2-persent in die landbou-, bosbou- en vissery-bedryf. Mark Burke van die DA sê die ekonomie is ongetwyfeld in ʼn krisis, dit groei nie en werksgeleenthede bly skaars:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het Afrika aangemoedig om sy energiebronne te wysig vir veiligheid en groei. Hy het op die Afrika-energie-Indaba in Kaapstad beklemtoon die byvoeging van energiebronne is beter as die uitfasering van fossielbrandstowwe. Ramokgopa het Afrika se stygende vraag na olie uitgelig en versoek kernkraguitbreiding, sonkragbeleggings en nuwe befondsingsmodelle om Afrika se energie-infrastruktuur ‘n hupstoot te gee:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die Wes-Kaapse bende-eenheid en misdaadintelligensiebeamptes geloof vir die inhegtenisneming gister van twee verdagtes en die beslaglegging op 26 vuurwapens en 50-duisend Mandrax-tablette in Bellville, Kaapstad. Die wapens sluit drie AK47-gewere en 12 nege-millimeter-pistole in. Die klopjag volg terwyl veiligheidskenners en Interpol in Pretoria vergader om transnasionale georganiseerde misdaad aan te pak. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê beamptes gaan ook voort met Operasie Shanela waarin weekliks beslag gelê word op meer as 100 onwettige vuurwapens.
# Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, sê daar is geen regverdiging of noodsaak vir die 25-persent tarief wat Amerika teen Kanada ingestel en wat Dinsdag van krag geword het nie. President Donald Trump het ook ʼn tarief van 25-persent ingestel op invoere van Mexiko, terwyl die tarief op Chinese goedere met 20-persent verhoog is. Trudeau sê hy gaan die Amerikaanse tariewe by die Wêreldhandelsorganisasie uitdaag, asook deur die vryehandelooreenkoms wat die twee lande dek:
# Tennis: Twee gewese wêreld-nommer-een-spelers, Carlos Alcaraz van Spanje en Novak Djokovic van Serwië, kan in die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika teen mekaar te staan kom. Alcaraz is tweede gekeur na die Duitser Alexander Zverev, in die afwesigheid van die wêreld se voorste speler, Jannik Sinner van Italië, wat geskors is. Djokovic is sesde gekeur. Die byeenkoms het die bynaam Vyfde Grand Slam omdat dit die beste bywoningsyfer het naas die vier Grand Slam-toernooie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-294-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-909-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….