Nuus 07:00
BULLETIN 27 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê die publiek se belastinggeld moet verstandig bestee word
# Die Wilgenhof-alumnivereniging en die Universiteit Stellenbosch skik
# En gholf: Dean Burmester is gereed om sy SA Ope-titel te verdedig
# Die Internasionale Monetêre Fonds se besturende direkteur, Kristalina Georgieva, doen ‘n beroep op opkomende ekonomieë om hul vermoë om inkomstebelasting in te samel te versterk en besteding te verbeter voordat hulle belasting verhoog. Sy het Woensdag ʼn byeenkoms van die G20-ministers van Finansies en presidente van sentrale banke in Kaapstad toegespreek. Georgieva sê staatsbesteding se gehalte beïnvloed nie net ekonomiese welstand nie, maar ook die publiek se gewilligheid om belasting te betaal:
# Die Nasionale Vergadering se benoeming van die beskuldigde voormalige Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, vir die Regterlike Dienskommissie is gebrekkig en wetlik irrasioneel. Dit is volgens senior advokaat Geoff Budlender. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het hierdie week ʼn aansoek van die DA, Freedom Under Law en Corruption Watch aangehoor dat die Parlement onwettig en ongrondwetlik opgetree het toe Hlophe vir die kommissie benoem is. Budlender, wat Corruption Watch verteenwoordig, sê Hlophe se optrede maak hom onbevoeg om op die Regterlike Dienskommissie te dien.
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het ‘n span ontplooi om vloedslagoffers in KwaZulu-Natal met noodbehuising by te staan. Die gebiede wat geraak is, sluit in Lamontville, Umlazi en dele van die uGu- en King Cetshwayo-distrikte. Die span sal hierdie huishoudings registreer en bepaal wat die beste ingrypings sal wees, insluitend herbouing, hervestiging of die verskaffing van boumateriaal. Die woordvoerder, Tsekiso Machike, sê in samewerking met provinsiale owerhede wil hulle verseker gesinne kry voldoende skuiling:
# Die Universiteit Stellenbosch en die Wilgenhof-alumnivereniging het hulle geskil oor praktyke by die Wilgenhof-koshuis bygelê. Die universiteit was besorg oor onaanvaarbare praktyke en omstrede weggesteekte vertrekke wat in die koshuis gevind is. Albei partye het die impak van die uitbeelding in die media erken en verskoning gevra vir skade aan die reputasie van Wilgenhof-alumni en inwoners. Die skikking maak voorsiening vir voortgesette verbeterings by Wilgenhof en help om ‘n beter toekoms vir die koshuis daar te stel. Die ooreenkoms beëindig die litigasie wat die vereniging teen die universiteit begin het.
# Die Rwandese regering sê die Verenigde Koninkryk se besluit om sy finansiële hulp op te skort, is betreurenswaardig. Brittanje sê hy is gekant teen Rwanda se ondersteuning van die M23-rebelle wat twee stede in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo beset het. Meer as seweduisend mense is dood en duisende het uit hul huise gevlug sedert die konflik in Januarie toegeneem het. Rwanda sê Brittanje se maatreëls dra nie by tot ʼn volhoubare politieke oplossing vir die geweld in die DRK nie.
# Gholf: Die LIV-gholf-trio Dean Burmester, Charl Schwartzel en Branden Grace is deel van ʼn sterk veld vir die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap wat vandag by die Durban-buiteklub begin. Altesaam 147 gholfspelers sal meeding vir die prysgeld van 27,6-miljoen-rand. Suid-Afrikaners het die laaste ses van hierdie kompetisies gewen. Die deelnemers sluit in Chris Paisley en Andy Sullivan van Engeland. Die verdedigende kampioen, Burmester, sê hy is opgewonde om teen wêreldklas-spelers mee te ding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-889-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….