Nuus 07:00
BULLETIN 26 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom het beurtkrag opgeskort
# AfriForum waarsku oor die skending van privaatheid in Johannesburg
# En motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen Jorge Martin is onbepaald uitgeskakel
# Eskom het beurtkrag opgeskort nadat opwekkingsvermoë herwin en aansienlike vordering gemaak is om noodreserwes aan te vul. Ná fase ses Sondag ingestel is, is beurtkrag Dinsdagoggend tot fase twee afgeskaal nadat talle opwekkingseenhede weer herstel is by kragstasies wat die naweek uitgeskakel het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragstelsel is bestendig:
# Die DA het die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, aangegee by president Cyril Ramaphosa en beskuldig haar van die versuim om die Nasionale Raad teen Geslagsgeweld en Vrouemoord te stig. Die DA-lid, Lisa Schickerling, sê ondanks toenemende geslagsgeweld-misdade, bly die raad onaktief. Sy eis dat Chikunga voor die Parlement moet verskyn oor haar gebrek aan optrede, en eis ook dat raadslede onmiddellik aangestel word:
# AfriForum is gekant teen ‘n nuwe Johannesburgse verordening wat die metro toegang bied tot privaat sekerheidsbeeldmateriaal. Die burgerregte-organisasie voer aan privaat kringtelevisienetwerke, hommeltuie en liggaamskameras behoort aan eiendomseienaars en die regering het geen wettige reg om beheer daaroor te neem nie. Jacques Broodryk van AfriForum beplan om die verordening te betwis en versoek ondernemings en eiendomseienaars om dit teen te staan:
# Die Spesiale Tribunaal het 16 diensverskaffers opdrag gegee om wins van sowat 21-miljoen-rand terug te betaal vir kontrakte vir persoonlike beskermingstoerusting wat na bewering onregmatig toegeken is. Die KwaZulu-Natalse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die kontrakte tydens die Covid-19-pandemie toegeken. ‘n Ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind alle diensverskaffers het tariewe gehef wat die prysriglyne van Nasionale Tesourie oorskry het. Die eenheid sê enige misdadige optrede sal vir vervolging verwys word.
# Die Franse president Emmanuel Macron sal vandag mede-EU-leiers inlig oor sy samesprekings met die Amerikaanse president, Donald Trump, voor die noodberaad oor Europese steun vir Oekraïne. Antonio Costa, wat aan die hoof staan van die Europese Raad wat die 27 lidlande verteenwoordig, het op X aangekondig hy het ‘n videokonferensie met Macron belê om voor te berei vir die leiers se samesprekings op 6 Maart. Trump het Europa onkant gevang toe hy verklaar het hy is bereid om sonder Europese betrokkenheid met Rusland te onderhandel oor die beëindiging van die drie-jaar-lange oorlog.
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, is onbepaald buite aksie nadat hy Dinsdag geopereer is vir frakture aan sy linkerhand. Die Spanjaard het sy hand Maandag tydens ʼn oefensessie in Spanje beseer. Die 27-jarige renjaer het vroeër die maand ook ʼn operasie gehad nadat hy sy regterhand en -voet in ʼn ongeluk in Maleisië beseer het. Martin se nuwe span, Aprilia, sê die operasie was suksesvol en die hersteltyd sal in die komende dae bepaal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-284-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-926-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….