Nuus 07:00
BULLETIN 25 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom verminder beurtkrag tot fase twee
# AgriSA gaan op handel en volhoubaarheid fokus by die B20-beraad
# En die VN se Algemene Vergadering aanvaar ‘n resolusie om die oorlog in Oekraïne te beëindig
# Beurtkrag is tot verdere kennisgewing tot fase twee afgeskaal nadat agt uit tien opwekkingseenhede wat die naweek uitgeskakel het, weer suksesvol aangeskakel is. Altesaam drie-duisend-808 megawatt is herstel by eenhede wat uitgeskakel het. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê alhoewel die herwinning van noodreserwes goed vorder, is verdere aanvulling nodig om voldoende vlakke te bereik:
# AgriSA sê hy sal hom beywer vir volhoubare landbougroei, handelsbeleide en voedselsekerheid op die B20-beraad se vergadering met sakeleiers in Kaapstad. Die uitvoerende hoof, Johann Kotzé, beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om klimaatsaanpassings en volhoubaarheid in handel te integreer, sonder om Afrika se voedselstelsel te benadeel. Hy sê AgriSA beskou dit as ‘n sleutelgeleentheid vir ekonomiese groei met 55-persent van Suid-Afrika se landbou-uitvoere wat aan G20-lande gekoppel is.
# Marknavorsing wat die Mededingingskommissie gedoen het onthul in ‘n voorlopige verslag hoe sosialemedia-tegnoreuse Suid-Afrika se media-advertensiemark oorheers. Die ondersoek het bevind Google oorheers die mark deur middel van partydige algoritmes. Die voorsitter, James Hodge, vra dat Google Suid-Afrikaanse mediahuise met 500-miljoen-rand jaarliks vergoed oor vyf jaar. Hy stel ‘n digitale heffing van vyf-tot-tien-persent voor vir tegnologiereuse en algoritme-aanpassings om billike mededinging te herstel:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê misdaadbekamping bly ‘n belangrike prioriteit vir die provinsie se regering. Hy het gisteraand die provinsiale rede in Tshwane gelewer. Gauteng bly Suid-Afrika se misdaad-brandpunt waar 25-persent van die land se moorde volgens nasionale misdaadstatistiek gepleeg word. Lesufi sê hulle het saam met die privaat sektor 442 baasbreine, wat die ergste misdade in die provinsie pleeg, geïdentifiseer en profiele opgestel:
# Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het ʼn resolusie aanvaar met die titel: “Bevorder ʼn omvattende, regverdige en blywende vrede in Oekraïne.” Altesaam 93 lede het daarvoor gestem, 18 daarteen en 65 het buite stemming gebly. Die resolusie vra dat geweld afneem, ʼn vroeë staking van vyandighede en ʼn vreedsame oplossing vir die oorlog. Dit beklemtoon ook dat die oorlog vanjaar nog moet eindig. Dit was Maandag drie jaar sedert Rusland Oekraïne binnegeval het. Die VN het 41-duisend-783 burgerlike slagoffers aangeteken wat minstens 12-duisend-600 sterftes insluit.
# Krieket: Nieu-Seeland is deur na die Kampioenetrofee se halfeindronde nadat hy Bangladesj met vyf paaltjies in Rawalpindi verslaan het. Draaibouler Michael Bracewell het die beste eendagwedstryd-syfers van sy loopbaan, vier vir 26 lopies, aangeteken om te help om Bangladesj tot 236 vir nege te beperk. In antwoord het Rachin Ravindra sy vierde eendag-honderdtal behaal en die Swartpette het die teiken bereik met drie boulbeurte en drie balle wat oorbly. Nieu-Seeland se oorwinning beteken gasheerland Pakistan is uitgeskakel, terwyl Indië ook onder laaste vier is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-252-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-945-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….