Nuus 07:00
BULLETIN 24 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag word afgeskaal tot fase vier
# Die DA kritiseer Suid-Afrika se oormatige afhanklikheid van Eskom
# En Suid-Afrika maak vordering om die gryslys te verlaat
# Beurtkrag is tot verdere kennisgewing tot fase vier afgeskaal. Dit volg nadat al vyf eenhede by Majuba, twee by Camden en een by Medupi sedert Saterdag weer aangeskakel is. In totaal is agt van die tien opwekkingseenhede wat die naweek uitgeskakel het, weer in diens gestel. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die aanvul van noodreserwes vorder ook goed:
Die DA sê intussen Suid-Afrika kan nie op Eskom as sy basiese energiebron staatmaak nie. Dit volg nadat die kragvoorsiener Sondagoggend fase ses-beurtkrag ingestel het weens instandhouding en nadat talle eenhede uitgeskakel het. Kevin Mileham van die DA sê die oorafhanklikheid van Eskom om die netwerk te onderhou en nuwe opwekkingsvermoë te skep, het daartoe gelei dat ‘n alleenhandel in voorsiening geskep is wat basies ʼn enkele oorsaak van mislukking is:
# Die Nasionale Tesourie sê hy het 20 van die 22 items hanteer wat in die aksieplan uiteengesit is om Suid-Afrika van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys te verwyder. Die land is in Februarie 2023 op die gryslys geplaas omdat hy nie internasionale standaarde nakom wat met geldwassery en onwettige beweging van geld verband hou nie. Die Tesourie sê die orige twee items sal na verwagting aangespreek word in die verslagperiode van Maart tot Junie. Die land sal dan moontlik in Oktober van die gryslys verwyder kan word.
# Die nuwe digitale Vertroude Toeroperateur-skema se visumprojek werp reeds vrugte af en die eerste groep besoekers uit China het die naweek in Suid-Afrika aangekom. Sedert die 12de van die maand het die eerste groep van 65 goedgekeurde toeroperateurs van Suid-Afrika, Indië en China visumaansoeke deur die skema begin verwerk. Die ministerie van Toerisme se woordvoerder, Zara Nicholson, sê Indië en China is uitgewys as twee belangrike besoekersbronne wat toerisme na Suid-Afrika kan laat groei:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê hy is gereed om uit te tree as dit vrede en NAVO-lidmaatskap vir sy land sal beteken. Dis vandag drie jaar sedert Rusland se volskaalse inval in dié land. Oekraïnse wetgewing verbied verkiesings tydens krygswet, wat bestaan sedert Moskou se inval in Februarie 2022. Zelensky het herhaal dat hy sekerheidswaarborge soek om Oekraïne in die sterkste moontlike posisie te plaas vir toekomstige vredesonderhandelinge.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het herbevestig dat die video-skeidsregterstelsel teen einde April in Suid-Afrika ingestel gaan word. Hy het aan SABC Sport gesê dit sal gereed wees voor die einde van die Premierliga-seisoen. McKenzie beklemtoon die tegnologie is daarop gemik om skeidsregters se beslissings te verbeter, korrupsie uit te roei en integriteit in Suid-Afrikaanse sokker te herstel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-971-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-928-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….