Nuus 07:00
BULLETIN 22 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane stel streng voorwaardes om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit
# Altesaam 27 lande doen ‘n beroep op Israel om die internasionale media in Gaza toe te laat
# En rugby: Jean-Luc du Preez is opgewonde oor sy eerste toetsbegin vir die Bokke in sewe jaar
# Build One South Africa sê hy sal dit slegs oorweeg om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit indien streng voorwaardes nagekom word. Hulle eis ‘n duidelike regeringsplan wat fokus op ekonomiese groei, werkskepping, die bekamping van misdaad en korrupsie, onderwyshervorming en etiese leierskap. Partyleier Mmusi Maimane dring ook aan op ‘n verbintenis tot nie-rassigheid, grondwetlikheid en die oppergesag van die reg. Hy waarsku hiersonder sal BOSA nie by die regering aansluit nie, ondanks voortgesette informele gesprekke:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid se voorsitter, Sibongiseni Dhlomo, sê Suid-Afrika se kommer oor onwettige buitelanders kan nie geïgnoreer word nie. Organisasies soos Operasie Dudula en March to March het veral in Gauteng en KwaZulu-Natal, buitelanders wat volgens hulle onwettig is, uit staatsgesondheidsentrums verwyder. Dhlomo sê mense sonder dokumentasie is nie noodwendig onwettig in die land nie:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee in die Vrystaat het besluit om minstens sewe burgemeesters, speakers en hoofswepe van munisipaliteite wat swak presteer, te verwyder. Die munisipaliteite is Mafube, Moqhaka, Letsemeng, Nketoana, Nala, Masilonyana en Lejweleputswa. Die ANC se provinsiale sekretaris, Polediso Motsoeneng, sê die NUK se besluit het te doen met swak leierskap en swak bestuur wat dienslewering belemmer, en bewerings van korrupsie:
# Die Wes-Kaapse regering gebruik alle beskikbare hulpbronne en werk nou saam met die nasionale owerhede om die provinsie se landbousektor teen dieresiektes te beskerm. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling, en Toerisme, Ivan Meyer, waarsku dat uitbrekings soos Afrika-varkgriep, hondsdolheid en voëlgriep ‘n bedreiging inhou vir plase, werkgeleenthede en voedselsekerheid. Meyer doen ‘n beroep op boere, nywerheidvennote en burgers om biosekuriteitsmaatreëls toe te pas en vermeende gevalle te rapporteer ten einde werksgeleenthede te beskerm en uitvoere te handhaaf.
# Altesaam 27 lande het ‘n gesamentlike verklaring onderteken waarin hulle Israel versoek om sy verbod op onafhanklike buitelandse mediatoegang in Gaza te beëindig. Internasionale joernaliste is deur Israel verbied om die Gazastrook onafhanklik binne te gaan, terwyl ten minste 192 joernaliste en mediawerkers sedert die begin van die oorlog dood is. Lande soos Frankryk, Japan, die Verenigde Koninkryk, Australië en Duitsland vorm deel van die Media Freedom Coalition, wat ‘n interregeringsgroep is. Die lande sê joernaliste moet toegelaat word om humanitêre ramp in Gaza te dek.
# Rugby: Die losvoorspeler, Jean-Luc du Preez, sê hy sien uit daarna om alles uit te haal in sy eerste begin-opdraf in sewe jaar vir die Springbokke in môre se Rugbykampioenskap-kragmeting teen Australië in Kaapstad. Die 30-jarige Du Preez staan agter in die skrum in vir die beseerde Siya Kolisi saam met die flanke, Marco van Staden en Franco Mostert. Du Preez sê dis natuurlik om die verantwoordelikheid van hierdie geleentheid te voel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-762-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir nog nuus…