Nuus 07:00
BULLETIN 19 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Landbou glo in bemagtigingsmodelle om die sektor te laat groei
# Die Parlement verwelkom pogings om sukkelende munisipaliteite te ondersteun
# En ‘n raamwerk is ontwikkel vir ‘n einde aan die Russies-Oekraïnse oorlog
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê hy stel nie belang om gelyke uitkomste deur ras of ander kwotas te bewerkstelling nie, maar deur gelyke geleenthede te bevorder. Hy het Sakeliga se beskuldigings dat die departement Swart Ekonomiese Bemagtiging uitbrei en ‘n hervormingsfonds skep, verwerp. Steenhuisen sê daar is steeds ongelykheid tussen swart en wit boere in die landbousektor en voeg by almal moet regverdige toegang tot markte kry:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, sê hy is bemoedig deur pogings om die swak funksionering van baie munisipaliteite aan te spreek en die verswakking van bestuur om te keer. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die komitee ingelig oor sy planne om sukkelende munisipaliteite te ondersteun wat befonsde en onbefondsde begrotings betref, en die skuld aan waterrade en Eskom. Die komitee sê daar is steeds ʼn groot gaping tussen die tien swakste munisipaliteite en die 61 wat goed funksioneer en dit bly ʼn probleem.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is medevoorsitter van die 16de ministeriële politieke dialoog tussen Suid-Afrika en die Europese Unie in Kaapstad. Die EU se senior verteenwoordiger vir Buitelandse Sake en Sekerheidsbeleid, Kaja Kallas, sal by hom aansluit, asook verskeie Suid-Afrikaanse ministers. Die dialoog is daarop gemik om bilaterale samewerking te verstewig voor die beraad tussen Suid-Afrika en die EU in Maart. Onderwerpe sluit in handel, ontwikkeling en internasionale sake van gemeenskaplike belang.
# Die EFF in Gauteng sê hy verwerp die herverkiesing van ANC-raadslid, Lerato Maloka, as Sedibeng-munisipaliteit se burgemeester. Sy is in Januarie deur ʼn mosie van wantroue as burgemeester verwyder oor die wanbestuur van die munisipaliteit se sake. Dumisani Baleni van die EFF sê in plaas van voorkeur aan dienslewering, gebruik die ANC die openbare amp vir politieke begunstiging en om faksie-lojaliste te vergoed ten koste van die gemeenskap se welstand:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê toegewings sal aan alle kante gemaak moet word om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te beëindig. Hy het gister in Saoedi-Arabië met senior Russiese amptenare vergader om te begin onderhandel om bande te versterk en die oorlog te beëindig. Rubio sê ʼn raamwerk is vasgestel wat die aanstelling van ʼn hoëvlakspan van Amerika insluit om te help onderhandel en deur die einde van die konflik te werk:
# Krieket: ‘n Gewese Pakistanse speler en administrateur sê die Kampioenetrofee wat vandag begin, gaan oor meer as net die sport vir die land. Ramiz Raja glo dit sal Pakistan se reputasie ‘n reuse-hupstoot gee as hy sy eerste groot toernooi in byna drie dekades met welslae kan aanbied. Hy sê dit was nie maklik om die wêreld te oortuig die land is veilig na die terreuraanval op ‘n besoekende span se bus in 2009 nie. Sekerheidsmaatreëls is opgeskerp, veral in die gasheerstede Karatsji, Lahore en Rawalpindi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-138-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-931-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….