Nuus 07:00
BULLETIN 18 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika moet sy skuldlas verlig
# AfriForum kritiseer die afname in polisiereserviste
# En senior Amerikaanse en Russiese diplomate bespreek Oekraïne
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se voortslepende swak groei, hoë gemiddelde rentekoerse en groot fiskale tekorte dra by tot die vinnige styging in staatskuld. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy begrotingsrede. Die land se jongste skuld teenoor bruto binnelandse produk sal in 2025/2026 75,5-persent weens. Tidiane Kinda van die IMF het aan Bloomberg gesê die regering moet dapper stappe doen om die skuldlas te verminder. Dit sluit in dissipline wat salarisse betref terwyl hervormings by sukkelende staatsondernemings vinniger moet plaasvind.
# AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die agteruitgang van die polisie se reservisteprogram, wat die afgelope dekade met 90-persent gekrimp het. AfriForum se 177 buurtwagte het daarenteen in twee jaar met 15-persent gegroei. AfriForum se woordvoerder, Jacques Broodryk, sê ondanks planne van die polisie om teen 2026 30-duisend beamptes te werf, kan hy nie reserviste behou nie. Hy eis deursigtigheid en vra dringende optrede om steun vir gemeenskaps-wetstoepassing te herstel:
# Die Gautengse Departement van Onderwys het as voorsorgmaatreël ‘n 45-jarige onderwyser van die Lufhereng Secondary School in Soweto verwyder. Hy word beskuldig dat hy verlede Donderdag ʼn graad 11-leerder by sy huis verkrag het. ʼn Saak is reeds by die polisie aanhangig gemaak. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die besluit om die onderwyser te verwyder, is geneem om die betrokke leerder, en groter skoolgemeenskap, se veiligheid en welstand te verseker:
# President Cyril Ramaphosa het ʼn proklamasie onderteken wat die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gee om bewerings van wanadministrasie in die eThekwini-munisipaliteit se Departement van Water en Sanitasie te ondersoek. Die ondersoek sal fokus op dienste wat tussen Januarie 2015 en 14 Februarie 2025 aan menslike nedersettings en skole binne die munisipale grense gelewer is. Die eenheid sê die ondersoek sal bepaal of kontrakbetalings binne die Nasionale Tesourie se riglyne was, en of dit onregmatig of verkwistend was en tot finansiële verliese vir departement of staat gelei het.
# Senior Amerikaanse en Russiese diplomate vergader vandag in Saoedi-Arabië oor ‘n moontlike einde aan die oorlog in Oekraïne. Dit sal die eerste ontmoeting tussen senior verteenwoordigers van die twee lande wees sedert Moskou Oekraïne in Februarie 2022 binnegeval het. Die Amerikaanse president, Donald Trump, is ten gunste van ‘n vinnige oplossing vir die konflik, maar het nog nie ‘n plan uiteengesit om die strydende partye om die onderhandelingstafel te kry nie. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, sê Kiëf weet niks van die samesprekings in Riaad nie.
# Fietsry: Die wenner van die Tour de France in 2018, Geraint Thomas [ghê-RAAINT] tree aan die einde van die seisoen uit. Die 38-jarige Wallieser het in 2008 en 2012 Olimpiese goud in spanagtervolging gewen, asook drie wêreldtitels ingepalm. Thomas durf vanjaar die toer in ‘n ondersteunende rol aan vir sy Britse span, INEOS [ie-nie-JOS]. Hy beplan om in September aan die Toer van Brittanje deel te neem voordat hy uitspan. Volgens Thomas wil hy na sy uittrede aan Strictly Come Dancing deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-37-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-896-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….