Nuus 07:00
BULLETIN 12 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Basiese Onderwys sê sy sal nie die verpolitisering van die BELA-wet duld nie
# Die leier van die VF Plus sê Afrikaners is deel van Suid-Afrika se verskeidenheid
# En die VN-hoof sê hernude oorlog in Gaza moet ten alle koste vermy word
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy gaan nie toelaat dat die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette verpolitiseer word op ‘n wyse wat leer en onderrig ontwrig nie. Die regering finaliseer tans die regulasies wat beskikbaar sal wees vir openbare kommentaar en insette. Sy het Dinsdag tydens die staatsrededebat in die Parlement gepraat. Gwarube sê die BELA-wet se riglyne en regulasies moet so ingestel word dat dit leerders, onderwysers en skole beskerm:
# Die leier van die Vryheidsfront Plus en minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, sê die regte van Afrikaners moet gerespekteer word terwyl daar aan ‘n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners gewerk word. Hy verwerp onteiening sonder vergoeding vir grondhervorming en vra vir meer besliste optrede deur die polisie oor onwettige grondbesettings. Groenewald sê hy is hier om te bly:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het kommer uitgespreek oor die voortslepende verblyfkrisis by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie en die Nelson Mandela-universiteit in die Baai. Studente wat sukkel om verblyf te kry, slaap in ʼn studentesentrum, ʼn saal vir gestremdes of buite. Vertragings met uitbetalings van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en beperkings op verblyf vererger die behuisingskrisis. Die komitee sê die stelselmatige mislukking om herhaalde verblyftekorte vir studente te hanteer, dui op ʼn groter institusionele en regeringsversuim wat studente se welstand betref.
# Die DA in Gauteng versoek die provinsiale regering om die proses met die uitreiking van e-vervoer-permitte te bespoedig sodat bestuurders sonder vrees vir teistering kan werk. Die party versoek LUR, Kedibone Diale-Tlabela, om regulasies op te klaar en tydelike maatreëls in te stel sodat die agterstand ingehaal kan word met e-vervoer-permitte, wat frustrasie en protesaksie in Tshwane veroorsaak. DA-woordvoerder, Evert du Plessis, sê die stelsel moet regverdig en deursigtig wees, sodat bestuurders wettig en sonder onnodige struikelblokke kan werk:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê vyandighede in Gaza wat tot groot tragedie sal lei, moet onder geen omstandighede hervat word nie. Hamas het Saterdag se beplande vrylating van Israelse gyselaars uitgestel en beweer Israel skend die skietstilstandooreenkoms. Drie gyselaars sou vrygelaat word in ruil vir Palestynse gevangenes wat in Israel aangehou word. Guterres sê albei kante moet by hulle verbintenis hou en ernstige onderhandelinge vir die tweede fase van die ooreenkoms hervat.
# Rugby: Amptenare van die Sesnasies het Frankryk se plan verydel vir die losskakel Romain Ntamack om ‘n deel van sy skorsing by sy klub, Toulouse, uit te dien. Hy is gestraf na sy rooikaart vir vuilspel teen Wallis in die eerste ronde. Ntamack het reeds die nederlaag teen Engeland misgeloop en Frankryk het gehoop hy sal beskikbaar wees vir volgende naweek se wedstryd teen Italië. Die organiseerders sê egter sy status as premierspeler vir Frankryk beteken hy sou buitendien nie vir Toulouse gespeel het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-123-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-899-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….