Nuus 07:00
BULLETIN 10 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering gaan vandag die SANW se teenwoordigheid in die DRK debatteer
# Die Afrikaner Selfbeskikkingsparty vra vir ‘n Volkstaat
# En gholf: Jamie Rutherford van Engeland wen die Kaapstad Ope
# Die Nasionale Vergadering gaan vandag ‘n DA-geborgde debat voer oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se teenwoordigheid in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Dit volg ná die dood van 14 SANW-soldate wat deel was van ʼn vredesending. Die DA sê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, se blatante onbevoegdheid en gebrek aan besorgdheid in hierdie krisis, en president Cyril Ramaphosa se oorverdowende stilte te midde van oproepe om antwoorde, is skandelik.
Intussen het ʼn gesamentlike beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en Oos-Afrika Gemeenskap streekshoofde van albei blokke gevra om binne vyf dae te vergader. Die doel is om tegniese riglyne te verskaf vir ʼn onmiddellike en onvoorwaardelike skietstilstand in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo, en pogings te lei om humanitêre hulp te voorsien wat repatriasie van slagoffers en mediese ontruimings insluit. Byna drieduisend mense is sedert verlede maand in die noordelike en suidelike Kivu-provinsies in die DRK dood.
# Die leier van die Afrikaner Selfbeskikkingparty, Jurg Prinsloo, beweer die enigste konstitusionele oplossing vir Afrikaners is die stigting van ‘n volkstaat. Prinsloo beklemtoon sy party, wat in internasionale wet erken word, kan slegs ten volle tot sy reg kom deur ‘n onafhanklike staat vir die Afrikaners. Hy kritiseer die herintegrering van inheemse swart state in 1994 in Suid-Afrika en beklemtoon die toenemende geweld en diskriminasie teenoor wit Suid-Afrikaners. Hy vra vir internasionale steun, veral van die VSA, om hierdie doel te bereik.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het sy huidige ondersoek na Stilfontein se Operasie Vala Umgodi in Noordwes na ʼn nasionale ondersoek uitgebrei. Sedert Augustus vanjaar het twee-duisend onwettige mynwerkers by die Buffelsfontein-myn na die oppervlak gekom en minstens 78 zama zama’s is dood. Die kommissie se advokaat, Sandra Makoasha, het aan die SABC gesê die besluit om die ondersoek nasionaal uit te brei, is genoodsaak deur die omvang van dit wat by Stilfontein gebeur, en voorleggings van gemeenskapslede, mynwerkers en nieregeringsorganisasies:
# Gholf: Jamie Rutherford van Engeland het sy eerste oorwinning op die Sonskyntoer behaal toe hy die Kaapstad Ope by die Royal Cape Gholfklub met twee houe gewen het. Hy het in winderige toestande 69 in die laaste ronde behaal om op 14 onder baansyfer te wen. Die Suid-Afrikaner Keenan Davidse is tweede op 12 onder met ʼn laaste ronde van 67, terwyl die Amerikaner Matt Oshrine derde is. Rutherford sê hy is tevrede dat sy bestendige spel vrugte afgewerp het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-481-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-866-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal het die eerste in Gauteng geword om suksesvol ‘n MitraClip-implantaat uit te voer om ernstige mitrale terugstroming te behandel. Die woordvoerder Motalatale Modiba sê die prosedure, wat min ingryping vereis, verkort hersteltyd drasties en bied ‘n lewensveranderende oplossing vir ouer mense of pasiënte met ‘n hoë risiko wat nie opehart-chirurgie kan ondergaan nie. Modiba sê die hospitaal se sukses is ‘n belangrike stap vir Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel. Die LUR vir Gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die openbare-privaat-samewerking geprys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….