Nuus 07:00
BULLETIN 8 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voorspraakgroep vra vir ‘n dringende grondherverdelingsoudit om plaaswerkermarginalisering aan te spreek
# Hamas maak die name bekend van drie Israelse gyselaars wat vandag vrygelaat word
# En krieket: Die derde seisoen van die SA20 bereik vandag sy hoogtepunt op die Wanderers
# Die Ontwikkelingsorganisasie vir Landelike en Plaaswerkers versoek ‘n dringende oudit van programme vir die herverdeling van grond. Hulle voer aan baie plaaswerkers bly gemarginaliseer terwyl plaaseienaars steeds bevoordeel word. Woordvoerder Billy Claasen vra vir dringende oplossings vir kwessies soos die hoë koste van elektrisiteit op plase en die gebrek aan sekerheid by aftrede vir plaaswerkers. Claasen onderneem om voort te gaan om met die regering te skakel om werks- en lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter:
# Die DA het die Tshwane ANC/EFF/ActionSA-koalisie gekritiseer omdat hulle tot op datum versuim het om die Munisipale Appèltribunaal en Strategiese Grondontwikkelingstribunaal byeen te roep. Hierdie sleutel-organisasies spreek appèlle oor rersonering en gemoniteerde toegangspermitte aan, wat noodsaaklik is vir gemeenskapsveiligheid en ekonomiese groei. Die DA-lid, Pogiso Mthimunye, sê gemeenskappe staar toenemend misdaad in die gesig. Hy versoek die koalisie om vinnig op te tree sodat vordering kan plaasvind en om die veiligheid van inwoners te herstel:
# Die OR Tambo Internasionale Lughawe is onder die top tien besigste lughawens in die Midde-Ooste en Afrika, volgens die Amptelike Lugdiens-gids se globale lugrederyskedules vir 2024. Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika berig meer as 12-miljoen geskeduleerde sitplekke is op OR Thambo ingeneem en daar was 17,8-miljoen passasiers gedurende die boekjaar. Daar was meer as 204-duisend vliegtuigbewegings op die lughawe en data dui aan OR Thambo bly Afrika se besigste lughawe en dien as ‘n belangrike spilpunt vir handel, konnektiwiteit en ekonomiese groei.
# Hamas sal vandag nog drie Israelse gyselaars vrylaat in die vyfde uitruiling as deel van ‘n brose skietstilstand in Gaza. Hulle is Eli Sharabi, Ohad ben Ami en Or Levy. In ruil vir die drietal sê Hamas hy verwag 183 Palestynse gevangenes sal vrygelaat word. Vroeër Vrydag het Hamas beweer Israel vertraag die aankoms van honderde vragmotors met kos en ander humanitêre bystand en het die meeste van die nodige tente en mobiele wonings wat vir skuiling nodig is, weerhou. Die Israelse militêre agentskap wat toesig hou oor hulpaflewerings in Gaza ontken die aantyging.
# En krieket: Die derde seisoen van die SA20 bereik vandag sy hoogtepunt wanneer MI Cape Town en die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, mekaar in die eindstryd in Johannesburg pak. Dis die eerste keer dat die Kaapstad span die eindronde bereik, terwyl die Oos-Kapenaars albei vorige toernooie gewen het – in 2023 teen Pretoria Capitals, en verlede jaar teen Durban’s Super Giants. Sunrisers se snelbouler, Marco Jansen, kan verbeter op sy 17 paaltjies, wat die meeste nog in die kompetisie is. Die wedstryd begin half-ses op die Wanderers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….