Nuus 07:00
BULLETIN 4 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê die regering ondersteun beleid wat vryemarkbeginsels weerspreek
# Die EFF loof president Ramaphosa vir die ondertekening van omstrede wetsontwerpe
# En rugby: Die Stormers sal sonder Schickerling moet klaarkom in die derby teen die Bulle
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê grondeienaarskap wat sentraal gereguleer word soos in die Onteieningswet vervat is, sal beleggers afskrik en Suid-Afrika se eiendomsregte ondermyn. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aangekondig dat Amerika toekomstige befondsing aan Suid-Afrika gaan staak tot ‘n volledig ondersoek na die land se onteieningsbeleid afgehandel is. Bennie van Zyl van TLU SA sê hulle glo Trump is moeg vir die manier waarop Afrika-leiers aanspreeklikheid oor die gebruik van humanitêre hulp ontwyk:
# Die EFF-lid, Mbuyiseni Ndlozi het president Cyril Ramaphosa geloof vir die ondertekening van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, en die Wet op Onteiening, ondanks teenkanting van sekere partye, insluitend die EFF. Die party steun die Bela-wet, maar is gekant teen die Onteieningswet en die NGV-wet. Ndlozi, wat onlangs as lid van die parlement bedank het, het Ramaphosa se leierskap geloof en gesê hy is verbind tot ware transformasie.
# Die Eskom-raad het Leslie Mkhabela aangestel as hoof- onafhanklike direkteur. Hy het in Oktober 2022 as onafhanklike nie-uitvoerende direkteur by die raad aangesluit toe die minister van Openbare Ondernemings, wyle Pravin Gordhan, die nuwe raad aangestel het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Mkhabela toon altyd beslissende, etiese en inklusiewe leierskap:
# AfriForum het ‘n beroep gedoen op die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, om dringend ondersoek in te stel na die ineenstorting van die Tradisionele Raad van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kantoor in Noordwes. Die gebou, wat reeds geruime tyd worstel met strukturele probleme, het op 29 Januarie gedeeltelik ineengestort. Barend Uys van AfriForum gee die regering se gebrek aan optrede die skuld vir die mislukking en waarsku ander openbare geboue kan soortgelyke gevare inhou indien die owerhede nie voorkomend optree nie:
# ‘n Franse hof het ‘n rolprentmaker beveel om twee jaar lank ‘n elektroniese armband te dra nadat hy skuldig bevind is aan die seksuele aanranding van ‘n jong aktrise. Adele Haenel, wat nou 35 is, het die 60-jarige Christophe Ruggia daarvan beskuldig dat hy haar in die vroeë 2000’s aangerand het toe sy tussen 12 en 14 was, en hy in sy laat dertigs. Die hof in Parys het Ruggia vier-jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is, en die res met die armband uitgedien sal word in plaas van agter tralies.
# Rugby: Die Stormers-slot, JD Schickerling, sal Saterdag weens ʼn skouerbesering die Verenigde Rugbykampioenskap-derby teen die Bulle in Kaapstad misloop. Hy het die besering verlede maand in die eerste helfte van die nederlaag teen Leinster in Dublin opgedoen. In Schickerling se afwesigheid sal Salmaan Moerat waarskynlik saam met Ruben van Heerden in die tweede ry uitdraf. Intussen sê hulpafrigter Norman Laker dat Manie Libbok, wat sy knie teen Leinster beseer het, moontlik beskikbaar sal wees nadat hy ʼn paar dae gerus het om te herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-513-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-820-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….