Nuus 07:00
BULLETIN 30 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi stel Suid-Afrikaners gerus oor MIV-behandeling
# AfriForum gaan sy plan teen die Onteieningswet bekendmaak
# En motorsport: Die sperdatum vir Suid-Afrika se F1-bod is uitgestel
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verseker Suid-Afrikaners niemand moet MIV-behandeling stop nie ondanks onsekerheid oor Amerikaanse befondsing. Hy het voor die nasionale kabinetslekgotla by die Uniegebou die media ingelig en gesê regeringsbefondsing en bydraes van oor die wêreld sal verseker teen-retrovirale-voorraad bly beskikbaar en daar word gekyk na maniere om moontlike tekorte aan te spreek. Motsoaledi verseker die behandeling sal voortgaan en pogings om die teiken van die Verenigde Nasies te haal, is op koers:
Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het intussen ‘n nood- humanitêre kwytskelding goedgekeur wat toelaat dat mense uit 55 lande wêreldwyd steeds toegang kry tot MIV-behandeling. Die Departement het aangekondig alle buitelandse hulp, insluitend befondsing en dienste wat die president se noodplan vir Vigs-verligting ondersteun, word onmiddellik vir 90 dae bevries. Dit is hangende ʼn hersiening of befondsing in ooreenstemming is met president Donald Trump se buitelandse beleid. Rubio sê die kwytskelding is nie van toepassing op programme wat aborsies, geslag of diversiteit, gelykheid en insluiting dek nie.
# AfriForum sal vandag sy strategie bekend stel om die pas bekragtigde Onteieningswet te beveg. President Cyril Ramaphosa het dit verlede week onderteken, en dit het teenkanting sowel as ondersteuning ontvang. Ernst van Zyl van AfriForum waarsku die wet bedreig privaat eiendomsregte, voedselsekerheid en ekonomiese bestendigheid. Hy sê hulle is bereid om sterk op te tree om te voorkom dat die wet ingestel word:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hy het vasgestel daar is te min bewyse om burgemeesterskomiteelede JP Smith en Xanthea Limberg te verwyder. Die polisie het verlede Vrydag ʼn klopjag by hul kantore uitgevoer, volgens berigte as deel van die Valke se ondersoek na verdagte behuisingstenders van een-miljard-rand. Hill-Lewis sê hy het Woensdag met die provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, en twee van sy amptenare vergader wat nie enige aanduiding kon gee of daar bewyse van verkeerde optrede is nie:
# Die EFF in Gauteng het die verwydering van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se ANC-burgemeester, Lerato Maloka, deur ʼn mosie van wantroue, verwelkom. Die DA-geleide mosie is aanvaar met 26 daarvoor en 21 daarteen. Die EFF sê onder Maloka se leierskap het dienslewering misluk, finansiële onreëlmatighede het toegeneem en inwoners se lewensomstandighede het versleg. Die party sê die mense van Sedibeng verdien leierskap wat dienslewering bo selfverryking stel.
# Motorsport: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het die sperdatum om aansoek te doen om ʼn Formule Een Grand Prix in Suid-Afrika aan te bied, tot 18 Maart uitgestel. Die departement sê dis om rolspelers nog tyd te gee om goed gestruktureerde, omvattende voorstelle in te dien. Kyalami bly die voorloper hangende opgraderings om aan FIA-standaarde te voldoen. Die departement se woordvoerder, Stacey-Lee Khojane, sê hulle is verbind tot ʼn deursigtige en mededingende proses:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-18-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-759-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….