Nuus 07:00
BULLETIN 28 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskuldig die SABC dat hy deur die ANC beïnvloed word
# Die SA Weerdiens is vermoedelik deur ‘n kuberaanval getref
# En koning Charles is die eerste Britse monarg wat Auschwitz besoek
# Die advokaat wat oudpresident Jacob Zuma en die MK-party verteenwoordig, Dali Mpofu, voer aan die SABC se gebruik van die term, regering van nasionale eenheid, bevorder die politieke doelwitte van die koalisieregering. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Maandag Zuma en MK se saak teen die SABC oor sy gebruik van die term GNU aangehoor. Mpofu sê die SABC bevorder die ANC. Die SABC se advokaat, Terry Motau, het daarteenoor aan die hof gesê die openbare uitsaaier het geen redaksionele reëls oortree nie:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, het sprake van nuwe belasting om ‘n voorgestelde sake-inisiatief in swart besit te befonds, van die hand gewys. Tau het tydens ‘n ANC-strategievergadering in Johannesburg gepraat en verduidelik die fonds is nog in sy ontwikkelingsfase en sal bestaande meganismes, soos gelykwaardigheid en ondernemingsontwikkelingsbefondsing, benut. Tau het beklemtoon hierdie inisiatief strook met voortdurende pogings om ekonomiese transformasie te bevorder sonder bykomende finansiële laste.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens bevestig hy het Sondag vermoedelik ‘n kwaadwillige kuberaanval beleef wat lugvaart-, see-, e-pos- en webwerfdienste ontwrig het. Woordvoerder Oupa Segalwe sê alternatiewe kanale, insluitend sosiale media, verskaf bywerkings aangesien spanne van Inligting- en Kommunikasietegnologie ondersoek instel en werk om stelsels te herstel. Hy bevestig die SAWD het die oortreding aangemeld. Dit was die tweede keer binne twee dae dat dit gebeur het.
# Die IVP sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid se plan om Ithala Bank bankrot te verklaar, is ondeurdag en ʼn skending van geregtigheid en toegang vir mense. Die owerheid sê die Terugbetaling-administrateur wat hy in Desember 2023 aangestel het, het vasgestel Ithala is tegnies en wetlik bankrot. Die IVP se president, Velenkosini Hlabisa, sê hulle gaan vandag en Donderdag buite die Hooggeregshof in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal betoog en belowe die party sal alles in sy vermoë doen om die bank te verdedig.
# Koning Charles die Derde is die eerste Britse monarg wat Auschwitz besoek en hy waarsku die wêreld om te onthou tot watter dieptes die mensdom kan daal. Dit was Maandag Holocaust-gedenkdag en die 80ste herdenking van die Auschwitz-Birkenau-konsentrasiekamp se bevryding van die Nazi’s. Sowat 1,1-miljoen mense, hoofsaaklik Jode, is van 1940 tot 1945 in die konsentrasiekamp vermoor. Die koning beskryf die dag as ʼn somber en heilige oomblik:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz van Spanje, is die topgekeurde in die Rotterdamse Ope in Nederland nadat die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, onttrek het. Die Italianer, wat boaan die wêreldranglys is, het besluit om ‘n ruskans te neem nadat hy die naweek sy Australiese Ope-titel behou het. Die wêreld-nommer-elf, Grigor Dimitrov van Bulgarye, gaan ook nie deelneem nie. Alcaraz kom te staan teen ‘n klomp sterk spelers, insluitend Holger Rune van Denemarke, die Switserse veteraan Stan Wawrinka, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, en die plaaslike gunsteling Tallon Griekspoor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-685-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….