Nuus 07:00
BULLETIN 24 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum dreig met regstappe om privaat eiendomsreg te beskerm
# Trump dreig met tariewe op maatskappye wat nie in Amerika vervaardig nie
# En tennis: Dit is Sabalenka teen Keys in die vroue-eindstryd van die Australiese Ope
# AfriForum dreig om met omvattende regsoptrede te begin om privaat eiendomsreg te beskerm indien die regering eiendom sonder vergoeding wil onteien. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die Onteieningswetsontwerp bekragtig het. Dit sit uiteen hoe staatsinstellings weens verskeie redes grond in openbare belang mag onteien. Ernst van Zyl van AfriForum sê enige wet wat privaat eiendom wil vat, is vir dié burgerregte-organisasie ‘n rooi streep:
# Die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Justisie, Xola Nqola, sê ten spyte daarvan dat die komitee die VBS-ondersoek teen die voormalige minister van Justisie, Thembi Simelane, afgesluit het, spreek dit haar nie vry nie. Hy het aan Newzroom Afrika gesê dit staan ander wetstoepassingsagentskappe vry om hul ondersoeke na die aangeleentheid voort te sit, om te verseker aanspreeklikheid kry voorrang:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het die behoefte aan herevaluering van kultuur beklemtoon en sê dit kan nie gekenmerk word deur praktyke wat tot katastrofes lei nie. Die minister het gister met tradisionele leiers in die Oos-Kaap vergader om voorkomingsmaatreëls te bespreek wat sal keer dat seuns wat ingelyf word, sterf. Altesaam 371 van hierdie jongmans is tussen 2016 en 2024 dood weens oorsake soos ontwatering, septisemie, gangreen en longontsteking. Hlabisa sê vroue se stem moet gehoor word om ʼn manier te vind om die probleem op te los.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het onderneem om tariewe te hef om Amerikaanse vervaardiging te red en, soos hy dit beskryf, onregverdige handelsverhoudinge met ander lande reg te stel. Hy het gister een van die eerste belangrike toesprake van sy presidentskap voor die wêreld se sake- en politieke leiers gelewer by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos. Trump sê die tariewe sal gebruik word om Amerika se ekonomie te versterk en skuld te delg:
# Tennis: Die 19de-gekeurde Amerikaner Madison Keys gaan môre probeer om die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, te verhoed om haar vierde Grand Slam-titel in te palm wanneer hulle in die eindstryd van die Australiese Ope speel. Sabalenka het gister onheilspellend goed vertoon toe sy die elfde-gekeurde Spanjaard Paula Badosa vermorsel het in die eerste halfeindstryd in Melbourne. Keys het daarenteen bloed gesweet voor sy die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, kon verslaan in die tweede halfeindstryd op die Rod Laver-arena.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-352-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-759-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-79-sent per vat.
# En om af te sluit: Die Franse produksie van die Spaanse rolprent, Emilia Pérez, het altesaam 13 Oscar-benoemings ingepalm en is die mees benoemde buitelandse rolprent in Oscar-geskiedenis. Die rolprent vertel die verhaal van ‘n Mexikaanse kartel-leier wat ‘n prokureur inroep om hom te help verdwyn en in ‘n vrou te verander. Tien rolprente sal meeding om die titel van beste rolprent by vanjaar se Oscar-toekennings. Die ander rolprente is Anora, The Brutalist, A Complete Unknown, Conclave, Dune: Part Two, I’m Still Here, Nickel Boys, The Substance en Wicked.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….