Nuus 07:00
BULLETIN 23 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die ondersoek na ‘n tender by die Onafhanklike Ontwikkelingstrust
# Die polisie werk saam met Interpol om kubermisdaad te bekamp
# En Trevor Noah gaan die Grammys vir die vyfde agtereenvolgende keer aanbied
# Die voorsitter van die parlementêre gekose komitee oor Openbare Infrastruktuur, Rikus Badenhorst, sê hy ondersteun die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, wat bestuursprobleme by die Nasionale Ontwikkelingstrust aanspreek. Dit volg nadat die departement PwC aangestel het om ‘n tender van 800-miljoen-rand vir ʼn suurstofaanleg, by die trust te ondersoek. Badenhorst sê hy loof die minister se vasberadenheid om agter die waarheid te kom, staatsfondse te beskerm en regeringstandaarde in die departement vol te hou:
# Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die SAPD se samewerking met Interpol om kubermisdaad te bekamp, bevestig. Die Valke sal die gasheer wees vir ‘n Interpol-afvaardiging, waar ondersoek ingestel sal word na die bevordering van vaardighede in kuberveiligheid, digitale forensiese ondersoeke en kuberintelligensie. Hierdie inisiatief het ten doel om Suid-Afrika se wetstoepassing te bemagtig met die vermoë om misdaad doeltreffend te beveg deur globale samewerking en gevorderde tegnologiese kundigheid:
# Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika veroordeel Bidvest SACD in Durban, KwaZulu-Natal, vir die aflegging van 106 werkers as winsgedrewe hebsug. Werkers beweer Bidvest beplan om hul rol aan ‘n arbeidsmakelaar uit te kontrakteer ondanks verhoogde sakebedrywighede. Volgens NUMSA vererger dit werkloosheid en armoede. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola beloof voortgesette protesaksie, wat NUMSA se verbintenis tot billike indiensneming onderstreep en uitbuitingspraktyke aan die kaak stel:
# Amerika se president Donald Trump dreig om hoë belastings, tariewe en sanksies teen Rusland en sy bondgenote in te stel indien president Vladimir Putin nie die oorlog in Oekraïne staak nie. Dit volg nadat Trump nie sy verkiesingsbelofte kon nakom om die oorlog binne 24 uur nadat hy ingesweer is, te beëindig nie. In ʼn plasing op sy Truth Social-platform, sê Trump dis tyd vir ʼn ooreenkoms om lewensverlies te voorkom. Rusland is die land wat die meeste sanksies teen hom het.
# Krieket: Engeland se nuwe witbal-era onder Brendon McCullum het met ʼn nederlaag van sewe paaltjies begin in hul eerste van vyf T20-wedstryde teen Indië in Kolkata. Kaptein Jos Buttler het 68 aangeteken, maar die besoekers was op 132 almal uit met Varun Chakravarthy wat drie paaltjies platgetrek het. In antwoord het Indië 133 lopies behaal met sewe boulbeurte wat oorbly. Abhishek Sharma se 79 was die hoogste lopietelling. Dis Indië se 14de oorwinning uit 16 sedert hulle verlede jaar die T20-wêreldbeker gewen het. Die tweede T20 vind Saterdag in Chennai plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-881-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-11-sent per vat.
# En te slotte: Die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige aanbieder van die Daily Show, Trevor Noah, gaan die vyfde agtereenvolgende jaar die jaarlikse Grammy-toekennings aanbied. Hy sal ook as ʼn vervaardiger van die regstreekse vertoning optree. Die 40-jarige Noah is benoem vir die beste komedie-album vir sy Netflix-produksie, Where Was I. Die Recording Academy sê vanjaar se seremonie het ʼn hernude sin van doelgerigtheid met bykomende pogings om verligting te bring ná die brande. Die 67ste Grammy-geleentheid vind op Sondag, 2 Februarie, in Los Angeles plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….