Nuus 07:00
BULLETIN 22 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika is versigtig vir ‘n BRICS-geldeenheid
# Die Parlement se komitee oor Korrektiewe Dienste is bekommerd oor die oorbevolking van tronke
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie versoek Trump om te heroorweeg
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika het nog nie sy standpunt oor ‘n gemeenskaplike BRICS-geldeenheid bepaal nie. Mashatile beklemtoon die land is afhanklik van die Amerikaanse dollar asook die noodsaaklikheid om handelsbesluite met groot omsigtigheid te neem. Volgens hom duur gesprekke voort en Suid-Afrika moet voorrang gee aan ekonomiese bestendigheid voor hy hom tot sulke belangrike wysigings verbind:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy het met ‘n proses begin om ʼn mandaat by sy lede te kry oor die regering se nuwe loonaanbod, en die verbetering van diensvoorwaardes vir staatsamptenare. Die regering se nuwe loonaanbod is 5,5-persent nadat staatsamptenare ʼn voorstel van ʼn vyf-persent-salarisverhoging verwerp het. Die VSA wat meer as 250-duisend staatsdienswerkers verteenwoordig, sê hy raai sy lede aan om aktief deel te neem aan die stemproses om die aanbod te aanvaar of te verwerp.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het kommer uitgespreek oor oorbevolking in tronke en sê daar is meer buitelanders as Suid-Afrikaanse landsburgers in gevangenisse. In die 2023/2024-boekjaar was daar 156-duisend gevangenes in tronke terwyl daar landwyd slegs 105-duisend goedgekeurde bedspasies vir gevangenes is. Die komiteevoorsitter, Anthea Ramolobeng, sê sedert Maart 2024 het die departement 22-duisend-612 buitelanders opgesluit waarvan 690 lewenslank sal sit:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie moedig president Donald Trump aan om sy besluit om Amerika aan die organisasie te onttrek, te heroorweeg. Trump het Maandag ʼn uitvoerende bevel onderteken om te onttrek en sê die organisasie het die Covid-19-pandemie swak hanteer, en kon nie sy onafhanklikheid van die onbehoorlike politieke invloed van lidlande bewys nie. Tarik Jasarevic van die WGO sê hulle sien uit na opbouende gesprekke om die vennootskap tussen Amerika en die organisasie te behou:
# Rugby: Wallis se hoofafrigter, Warren Gatland, besef almal skryf die sukkelende span af voor die begin van vanjaar se Sesnasiesreeks. Die land kon in die groepsafdeling van 2023 se Wêreldbekertoernooi laas ‘n toets wen, waarna hulle in die kwarteindronde teen Argentinië verloor het. Wallis was laaste in verlede jaar se Sesnasies. Gatland sê hulle sal selfvertroue en selfgeloof moet skep in hulle soeke na ‘n eerste oorwinning op die Stade de France in ses jaar wanneer hulle Frankryk volgende naweek in die eerste ronde in Parys pak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-887-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-748-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes van die Universiteit van Kaapstad, het met behulp van Suid-Afrika se MeerKAT-radioteleskoop ‘n seldsame reuse-radiosterrestelsel met die naam Inkathazo ontdek, wat “moeilikheid” in Zoeloe en Xhosa beteken. Met ‘n omvang van 3,3 miljoen ligjare daag die geboë plasmastraal bestaande fisika-modelle uit. Navorsers beklemtoon hierdie mylpaal is ‘n groot stap om kosmiese verskynsels te begryp, voor die bekendstelling van SKA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….