Nuus 07:00
BULLETIN 21 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis dat minister Ntshavheni verwyder word
# Minister Ramokgopa sê Suid-Afrika sal energiehervormings in Davos ten toon stel
# En Biden reik voorkomende kwytskelding uit aan lede van sy familie
# Die DA eis die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, moet onmiddellik verwyder word na onthullings oor ‘n ondersoek deur die Valke na tenderkorrupsie van 2,5-miljoen-rand tydens haar ampstermyn by Ba-Phalaborwa-munisipaliteit. DA-woordvoerder, Dianne Kohler Barnard, hou vol sy kan weens hierdie ernstige bewerings nie in die kabinet aanbly nie en versoek president Cyril Ramaphosa om op te tree. Sy sê dit dra by tot kritiek op ANC-leiers wat sonder aanspreeklikheid betrokke is by korrupsie:
ActionSA versoek intussen Ramaphosa ook om Ntshavheni te skors. ActionSA-woordvoerder, Athol Trollip, sê Ntshavheni se verantwoordelikheid om toesig te hou oor staatsveiligheid is ‘n botsing van belange en weerspieël ‘n kommerwekkende patroon van ministers met regskwessies onder Ramaphosa se leierskap:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika se hervormings in die energiemark en beleggingsgeleenthede sal hierdie week by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, vertoon word. President Cyril Ramaphosa lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging en spreek vandag die forum toe. Ramokgopa sê die energie-afvaardiging sal hervormings in die energiesektor deel wat beurtkrag beëindig het en die elektrisiteitsmark gemoderniseer het op ʼn manier wat mededinging uit die privaat sektor aanmoedig.
# Die SAKP sê die regering moet deeglik ondersoek instel na maniere waarop die Stilfontein-tragedie beter bestuur kon word en watter maatreëls ingestel moet word om soortgelyke tragedies te voorkom. Sedert November is meer as 80 liggame van onwettige mynwerkers uit die ongebruikte Buffelsfontein-goudmyn gehaal en meer as ʼn duisend mense het by ʼn skag na die oppervlak gekom. Die SAKP sê die regering moet mynkorporasies aanspreeklik hou vir hulle geskiedkundige en voortgesette uitbuiting, en streng maatreëls instel om onwettige mynbedrywighede te beveg.
# In sy laaste amptelike optrede as president van Amerika het Joe Biden voorkomende kwytskelding uitgereik aan sy broers, James en Francis, sy suster Valerie, en hul gades. Biden sê in ʼn verklaring sy familie is blootgestel aan voortdurende aanvalle en dreigemente omdat mense hóm wou seermaak, en beskryf dit as die ergste soort partydige politiek. Hy sê selfs wanneer mense onskuldig is en uiteindelik vrygespreek sal word, kan die feit dat hulle ondersoek of vervolg word onherstelbare skade aan hul reputasies en finansies aanrig.
# Rugby: Die gewese Wallabies-kaptein Michael Hooper sê hy is opgewonde om terug te keer ná sy uittrede in Junie. Hy het onlangs onverwags aangekondig hy het ‘n kontrak geteken met Toyota Verblitz wat afgerig word deur die gewese All Black-breier Steve Hansen. Die 33-jarige Hooper sal die res van die seisoen vir die Japanse span speel as plaasvervanger vir die beseerde Springbok-held Pieter-Steph du Toit. Hoofbestuurder Akimoto Goto glo Hooper sal jong Japanse talent inspireer. Die flank het 110 punte aangeteken in 125 toetse vir Australië tussen 2012 en 2023.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-60-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….