Nuus 07:00
BULLETIN 20 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC moet besluit oor die toekoms van Gauteng en KwaZulu-Natal
# RISE Mzansi wil hê die Nasionale Dobbelraad moet hervorm word
# En Joe Biden sê die gewere in Gaza het stil geword
# Die ANC sê hy moet gebalanseerd wees wanneer hy besluit om sy strukture in Gauteng en KwaZulu-Natal te ontbind of te versterk. Die party se nasionale uitvoerende komitee het die naweek in Boksburg vergader. Die twee provinsies was die ANC se grootste verloorders in die algemene verkiesing in Mei. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê ander faktore oor die twee provinsies is ook in ag geneem, soos of daar sterk politieke strategieë en funksionerende takke is:
# RISE Mzansi het ‘n brief aan die Nasionale Dobbelraad, gestuur vir die aandag van die uitvoerende hoof Caroline Kongwa, om ‘n vergadering te belê vir ‘n bespreking oor die weghol-dobbelkrisis. Makashule Gana van die party sê in die 2023/2024-boekjaar het Suid-Afrikaners 1,1-duisend-miljard-rand uitgegee en die bruto dobbel-inkomste vir die jaar was net minder as 60-miljard-rand, wat 25,7-persent meer is as in die 2022/23-boekjaar:
# Die DA in Gauteng sê inwoners staar voedselonsekerheid in die gesig weens die provinsiale regering se gebrek aan steun vir boere. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê die jongste bruto binnelandse produk-data oor die landbousektor onthul die bedryf het in die derde kwartaal van 2024 ‘n skokkende afname van 28,8-persent beleef, wat die BBP-groei met 0,7-persent laat daal het. Sy sê landbou is die ruggraat van voedselsekerheid:
# Limpopo-premier Phophi Ramathuba sê ‘n verdagte wat gearresteer is in verband met die verkragting van twee verpleegsters van die Ga-Chuene-kliniek, word met meer as tien ernstige sake verbind. Gewapende mans het na bewering vroeër die maand die kliniek bestorm en die twee verpleegsters ontvoer nadat hulle die veiligheidswagte aangehou het. Die verpleegsters is aangeval en verkrag. Die 27-jarige verdagte wat talle aanklagte in die gesig staar, insluitend roof en besit van gesteelde goedere, verskyn vandag in die Polokwane-landdroshof.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê ná soveel pyn, verwoesting en lewensverlies is die gewere in Gaza nou stil. Dit volg nadat Hamas Sondag drie Israelse gyselaars vrygelaat het. Die vroue is die eerste van 33 gyselaars wat in die eerste fase van die skietstilstand vrygelaat word. Ontheemde Gaza-inwoners het begin terugkeer terwyl vragmotors met hulpvoorrade die gebied binnegaan. Biden sê dit is die gevolg van ʼn beginselvaste en doeltreffende beleid waaroor hulle toesig gehou het:
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het Durban se Super Giants met ses paaltjies verslaan in hul SA20-kragmeting in die Baai. Die Durbanse span het eerste gekolf, maar kon ten spyte van Kane Williamson se 44 van 45 balle slegs 115 vir agt aanteken. Marco Jansen, Richard Gleeson, Ottniel Baartman en Liam Dawson het elkeen twee paaltjies platgetrek. In antwoord daarop het David Bedingham 39 van 20 balle behaal en die Sunrisers het die teiken in 15 boulbeurte en twee balle bereik. Dis hulle tweede agtereenvolgende oorwinning van die toernooi nadat hulle die eerste drie wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-478-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-692-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….