Nuus 07:00
BULLETIN 15 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi sit sy prioriteite vir ‘n nasionale dialoog uiteen
# Die VF Plus eis die herroeping van die BELA-wet
# En gholf: Jon Rahm sê die gebrek aan wêreldranglyspunte vir LIV is verkeerd
# Rise Mzansi het sy prioriteite vir die nasionale dialoog en die werksaamhede van die regering van nasionale eenheid uiteengesit. Die party vra dringende optrede om diepgaande sosio-ekonomiese kwessies aan te spreek, insluitend hoë werkloosheid, armoede en infrastruktuur wat agteruitgaan. President Cyril Ramaphosa word versoek om ministers aanspreeklik te hou vir hul prestasie en etiese optrede. Partyleier Songezo Zibi versoek politieke partye en die burgerlike samelewing om saam te werk aan ‘n voorspoedige en gelyke samelewing.
# Die Vryheidsfront Plus doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die volle proklamasie van die BELA-wet, wat verlede maand aangekondig is, te herroep. Die party voer aan die besluit strook nie met die aanbevelings van die regering van nasionale eenheid se geskilbeslegtingsmeganismes nie, wat vra vir verdere raadpleging oor omstrede afdelings oor taal- en toelatingsbeleid. Wynand Boshoff van die VF Plus sê hulle beplan om die proklamasie deur wettige kanale uit te daag om moedertaalonderrig en enkelmediumskole te beskerm:
# Die Gautengse Provinsiale Wetgewer se Gemeenskapsveiligheidskomitee het ‘n beroep gedoen vir onmiddellike optrede oor skoolveiligheid met die skole wat vandag heropen. Die komitee dring aan dat skoolveiligheidsmaatreëls, soos uiteengesit in die gefokusde-ingrypingstudie dringend ingestel moet word. Die verslag beklemtoon geweld en wapens in skole. Aanbevelings sluit in verbeterde soektogte, verhoogde sekerheidspersoneel en multidissiplinêre strategieë teen dwelms. Die voorsitter, Bandile Masuku sê die departemente het tot 28 Februarie om terugvoer oor die vordering te gee:
# ‘n Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met die skietvoorval waarin agt mense Saterdag in Pienaar, Mpumalanga, dood is. Die 43-jarige man is Dinsdagmiddag aangekeer. Die eerste verdagte, ʼn 39-jarige man, het in die Kabokweni-landdroshof verskyn waar hy van agt moorde aangekla is. Die polisiewoordvoerder, Jabu Ndubane, sê die tweede verdagte sal binnekort in die hof verskyn:
# Die Verenigde Nasies se Internasionale Organisasie vir Migrasie sê toenemende bendegeweld in Haïti het veroorsaak dat drie keer meer mense in een jaar uit hul huise verdryf is. Meer as ʼn miljoen mense is tot dusver in Haïti ontheem teenoor die 315-duisend wat op 20 Desember 2023 aangeteken is. Meer as vyfduisend-600 mense is verlede jaar in die geweld dood. Die IOM sê met die geweld wat voortduur, raak dit moeiliker om die kwesbaarste mense te bereik.
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, sê die gebrek aan wêreldranglys-punte vir LIV-spelers is onregverdig. Die wêreldranglys-stelsel het LIV se aansoek in 2023 verwerp nadat die liga nie aan twee belangrike kriteria voldoen het nie. Die besluit het gekeer dat LIV vir groot kampioenskappe in aanmerking kom, waar plekke op grond van wêreldranglys-punte gewaarborg word. Rahm sê dis verkeerd om nie in hierdie stadium aan LIV hierdie punte en die geloofwaardigheid wat dit verdien, te gee nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-55-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-673-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….