Nuus 07:00
BULLETIN 14 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube sê onderwysgehalte moet verbeter
# AfriForum eis die opknapping van intelligensie-agentskappe
# En boks: Die voormalige swaargewigwêreldkampioen Tyson Fury tree uit
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die matriekklas se prestasie moet gevier word, maar die land moet terselfdertyd nadink oor die basiese onderwysstelsel se gesondheid. Die nasionale slaagsyfer van die Nasionale Senior Sertifikaat het van 82,9-persent in 2023 tot 87,3-persent toegeneem. Gwarube sê goeie vordering is gemaak om toegang tot onderwys uit te brei, maar die aandag moet nou verskuif om die gehalte van onderwys wat leerders ontvang, te verbeter:
Die DA sê intussen die 2024-matriekklas se sukses getuig van hul harde werk, en onderwysers, skoolleiers en gesinne reg oor die land se toewyding. Die klas se slaagsyfer is die hoogste ooit. Delmaine Christians van die DA sê hulle verwelkom die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se voorgestelde strategiese reoriëntasie tot vroeëkinderjare-ontwikkeling en die grondslagfase:
# AfriForum vra onmiddellike hervormings van Suid-Afrika se intelligensie-agentskappe, met verwysing na wydverspreide korrupsie en politieke inmenging. Die burgerregte-organisasie sê die Staatsveiligheidsagentskap slaag nie daarin om die land te beskerm nie, weens berigte oor fondse wat misbruik word, soos die 22,7-miljoen-rand wat aan ‘n luukse hotel bestee is. Jacques Broodryk van AfriForum versoek die regering om die integriteit en doeltreffendheid van intelligensie-agentskappe te herstel:
# “Kopanang Africa Against Xenophobia” is besorg oor die onmenslike behandeling van kwesbare individue in haglike werksomstandighede. KAAX veroordeel die regering se versuim om op te tree en eis onverwylde optrede om vasgekeerde mynwerkers by Stilfontein se Buffelsfontein-goudmyn te red. Die groep loof die rol van die regbank om menseregte te beskerm en beskryf die regering se gebrek aan optrede as ‘n grondwetlike mislukking. KAAX eis daadwerklike ingryping om die lewens en waardigheid te beskerm van individue wat geraak is. Die groep beklemtoon die behoefte aan sistemiese hervormings om gemarginaliseerde gemeenskappe by te staan.
# ‘n Amerikaanse federale regter het toestemming gegee dat die gewese spesiale raadslid, Jack Smith, se verslag oor gekose president Donald Trump se pogings om die 2020-verkiesing omver te werp, bekendgemaak mag word. Smith het beweer Trump en talle medesamesweerders wou die vreedsame oordrag van mag omverwerp. Dit het gelei tot Trump-ondersteuners se sogenaamde aanval op 6 Januarie op die Amerikaanse Kongresgebou. Florida-regter Aileen Cannon het ʼn hofdatum vasgestel vir dié deel van Smith se verslag wat oor die ondersoek oor geklassifiseerde dokumente gaan.
# Boks: Die gewese swaargewig-wêreldkampioen, Tyson Fury, het sy uittrede met onmiddellike ingang aangekondig. Die 36-jarige Brit was in Desember laas in die kryt toe hy sy geveg teen die WBA-, WBC- en WBO-kampioen, Oleksandr Usyk, verloor het. Dis nie die eerste keer dat Fury sy aftrede aankondig nie. Hy het in April 2022, nadat hy Dillian Whyte verslaan het, ook gesê hy gaan sy handskoene ophang. Fury is ʼn tweemalige swaargewigkampioen met ʼn rekord van 34 oorwinnings, twee nederlae en een geveg wat gelykop geëindig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-730-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….