Nuus 07:00
BULLETIN 13 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA ontbloot die ministerie van Finansies se reisrekening
# Die regering begin vandag om die vasgekeerde zama zamas in Stilfontein te red
# En Acsa verseker die beskikbaarheid van vliegtuigbrandstof by OR Tambo
# ActionSA het onthul die Ministerie van Finansies het tussen Julie en November verlede jaar reisuitgawes van meer as agt-miljoen-rand aangegaan. Volgens ActionSA, het minister Enoch Godongwana se kantoor twee-miljoen-rand bestee, adjunkminister David Masondo se kantoor 3,9-miljoen-rand, en adjunkminister Ashor Sarupen se kantoor ook twee-miljoen-rand, alles op internasionale en binnelandse reise. Bestemmings het Brasilië, Londen en Rusland ingesluit. ActionSA het die gebrek aan fiskale omsigtigheid gekritiseer, en dring aan op strenger reiskosteregulasies om verkwistende besteding hok te slaan.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het sy gelukwensinge oorgedra aan ontvangers van maatskaplike toelaes wat vandag hul Nasionale Senior Sertifikate ontvang. Van die 882-duisend-336 leerders wat geskryf het, ontvang 697-duisend-502 maatskaplike toelaes, waarvan 94,3-persent Kinderondersteuningstoelaes is. Die departement sê sy Geslagsgeweld-beheersentrum sal hierdie week traumaberading aanbied vir angstige matrikulante en hul gesinne. Die departement beklemtoon die opvoedkundige belang van graad 12-uitslae.
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie sê hy begin vandag met pogings om die oorblywende onwettige mynwerkers ondergronds by die Buffelsfontein-goudmyn by Stilfontein in Noordwes uit te haal. Dit volg na verlede week se beslissing deur die Hooggeregshof in Pretoria. Die getal zama zamas wat ondergronds gesterf het, staan tans op 109. Die departement se woordvoerder, Makhosonke Buthelezi, het aan Newzroom Afrika gesê hulle beplan reeds sedert Desember om die onwettige mynwerkers na die oppervlak te bring:
# Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika sê hy het die nodige reserwes om seker te maak daar is altyd genoeg vliegtuigbrandstof by OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng beskikbaar. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging hom in kennis gestel het die Nasionale Petroleum Raffineerders van Suid-Afrika het maatreëls ingestel ná die brand op 4 Januarie. Acsa sê hy het brandstofreserwes om seker te maak daar is genoeg beskikbaar vir agt dae en dat voorrade tot 20 Januarie in plek is.
# Die Verenigde Nasies sê die de facto-owerhede in Sirië het opregte inskiklikheid getoon om die land ‘n beter plek te maak. Dit volg ná die skielike val van een van die gewelddadigste regimes in die Arabiese wêreld, die diktatorskap van president Bashar al-Assad van die Baath-party. Die VN se adjunk- spesiale gesant vir Sirië, Najat Rochdi, sê Siriërs het ʼn sterk begeerte dat mense van reg oor die sosiale spektrum bymekaarkom en ʼn nuwe grondwet saamstel:
# Krieket: Die SA20-wedstryd tussen Pretoria Capitals en Durban Super Giants is Sondag in Centurion weens reën afgestel sonder dat een bal geboul is. Nadat Giants se kaptein, Keshav Maharaj, die loot gewen en besluit het om eerste te boul, het aanhoudende reën gekeer dat die wedstryd begin. Toestande het egter nie genoeg verbeter dat ʼn wedstryd kon plaasvind nie. Die twee spanne het elkeen twee punte ontvang. Vandag spook MI Cape Town en Paarl Royals sake uit op Nuweland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-200-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….