Nuus 07:00
BULLETIN 9 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die 8 Januarie-verklaring sal sleutelprioriteite vir die ANC uitstippel
# Public Interest SA sê die publikasie van die matriekuitslae is ‘n oorwinning vir deursigtigheid
# En die GOOD-party bestempel die Stilfontein-mynsage as ‘n humanitêre ramp
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party is in ‘n herbou-fase terwyl hy sy 113de bestaansjaar vier. Die party het in verlede jaar se algemene verkiesing sy meerderheid verloor en moes met opposisiepartye ʼn regering van nasionale eenheid vorm. Ramaphosa sê die ANC se 8 Januarie-verklaring wat hy Saterdag in Khayelitsha, Kaapstad, lewer, sal ʼn ontleding uiteensit van die huidige politieke omgewing en die party se hoofprioriteite bevat:
# Public Interest SA het die Hooggeregshof in Pretoria se besluit verwelkom om die Inligtingsreguleerder se dringende aansoek om te keer dat die 2024-matriekuitslae volgende week in die media gepubliseer word, van die rol te skrap. Die hof het bevind die reguleerder het sy aansoek te laat gebring en die saak met koste van die rol geskrap. Dit beteken die Departement van Basiese Onderwys se publikasie van die matriekuitslae sal wettig wees. Public Interest SA sê hy beskou hierdie regsgeding as ʼn skokkende misbruik van die regstelsel.
# Die GOOD Party sê die Stilfontein-mynkrisis in Noordwes is ‘n humanitêre ramp en vereis dringende regeringsingryping. Meer as 500 onwettige mynwerkers is ná meer as drie maande steeds ondergronds vasgekeer en verskeie sterftes is reeds aangemeld. Die party beskuldig die regering van die skending van grondwetlike regte omdat reddingspogings blokkeer word en die maatskaplik-ekonomiese kwessies wat onwettige mynbou aandryf, nie aangespreek word nie. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, waarsku dit word een van Suid-Afrika se ergste humanitêre mislukkings:
# Die Finansiële Portefeuljekomitee van die Gautengse Wetgewer sê hy is daartoe verbind om toesig te verskerp om fiskale dissipline te verseker. Dit volg nadat daar in ‘n aanlyn artikel berig is oor kommer weens ‘n moontlike begrotingstekort van ses-miljard-rand en ‘n weerspreking deur die LUR vir Finansies, Lebogang Maile. Die komitee se voorsitter, Andiswa Mosai, sê gereelde uitgawe-oorsigte en strategiese raadpleging het ten doel om begrotingsoorskrydings te voorkom, wat aanspreeklikheid in alle provinsiale departemente sal versterk te midde van ekonomiese uitdagings:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, voer vandag in Brittanje samesprekings met die Franse president, Emmanuel Macron. Die vergadering volg nadat die twee leiers hulle vroeër vandeesweek sterk teen die tegnologie-miljardêr, Elon Musk, uitgespreek het oor sy toenemende inmenging in binnelandse Europese politiek. Starmer sal Macron by sy plattelandse ampswoning, Chequers, in Buckinghamshire naby Londen ontvang. Die samesprekings sal fokus op gebiede van samewerking en gedeelde globale uitdagings, insluitend ondersteuning vir Oekraïne, tegnologie en kunsmatige intelligensie, groei en die onwettige migrasie.
# Atletiek: UK Athletics word aangekla van korporatiewe manslag, en sy voormalige hoof van sport, Keith Davies, van growwe nalatige manslag na die dood van ʼn Paralimpiese gewigstoter in 2017. Abdullah Hayayei het gereed gemaak om die Verenigde Arabiese Emirate by die Wêreld Para-atlektiekkampioenskap in gewigstoot, skyfwerp en spiesgooi te verteenwoordig toe ʼn metaalhok op hom geval het. Die tragedie het by Newham-ontspanningsentrum in Londen plaasgevind. UK Athletics en Davies sal op 31 Januarie in die Westminster-landdroshof verskyn.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-938-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….