Nuus 07:00
BULLETIN 7 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minstens 18 is dood in ‘n ongeluk by Van Reenenspas
# Die SAKP gaan voort om op sy eie deel te neem aan die plaaslike regeringsverkiesing
# En Joe Biden verbied boorwerk teen die kus minder as twee weke voor Donald Trump oorneem
# Minstens 18 mense is gisteraand dood in ‘n kettingbotsing op Van Reenenspas in KwaZulu-Natal waarby ʼn vragmotor, minibus en ʼn motor betrokke was. Volgens berigte is 13 volwassenes en vyf kinders dood. Onder die oorlewendes is ʼn baba wat in bedenklike toestand is. Die N3-tolkonsessie se bedryfshoof, Thania Dhoogra, sê alle bane van die N3 is vir verkeer gesluit:
# Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê hulle besluit om onafhanklik deel te neem aan die 2026 plaaslike regeringsverkiesing is nie om die ANC en sy bondgenote te verswak nie. Hy het gister [Maandag] in Soweto by die 30ste herdenking van die gewese SAKP-hoofsekretaris, Joe Slovo, se dood gepraat. Die ANC se steun het verlede jaar in die algemene verkiesing van 57-persent in 2019 tot 40-persent gedaal. Mapaila sê die SAKP sal as onafhanklike party lei tot hervormende plaaslike regering wat deur die werkersklas gelei word:
# Die EFF sê afleggings by ArcelorMittal bewys volgens hom die ANC-DA-koalisie se idee dat hulle koalisie die beste is vir privaatsektor-belegging en werkskepping, is ʼn selfdienende mite. Suid-Afrika se enigste basiese staalvervaardiger, ArcelorMittal SA, het besluit om sy langstaal-onderneming te sluit. Dit sal beteken tot drie-duisend-500 regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede in Newcastle, KwaZulu-Natal en Vereeniging, Gauteng, sal in gedrang kom. Die EFF sê werkloosheid sal toeneem onder die ANC-DA-koalisie.
Die metaalwerkersvakbond, Numsa, sê intussen die beplande posbesnoeiings deur ArcelorMittal Suid-Afrika in Newcastle, KwaZulu-Natal en Vereeniging, Gauteng, kan die staal- en motorbedryf verwoes en gemeenskappe benadeel. Die maatskappy wil 35-persent van sy arbeidsmag besnoei as gevolg van strukturele uitdagings met sy langstaal-bedryf. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, onderneem om die afleggings te beveg en vra vir samewerking om vervaardigingsvermoë te beskerm en ekonomiese gevolge te voorkom:
# Amerikaanse president Joe Biden het boorwerk oor ‘n baie groot gebied langs die kus verbied, weke voor Donald Trump oorneem en onderneem het om die produksie van fossielbrandstowwe te verhoog. Die verbod beslaan die hele Atlantiese kus en die oostelike Golf van Mexiko, sowel as die kus van Kalifornië, Oregon en Washington aan die Stille Oseaan asook ‘n gedeelte van die Beringsee by Alaska. Die Withuis sê in ʼn verklaring meer as 253-miljoen-hektaar water word beskerm. Trump het in reaksie gesê hy sal die verbod omkeer.
# Rugby: Die hoofafrigter van Samoa, Mahonri Schwalger, het bedank. Die voormalige haker van Samoa is sedert September geskors nadat hy aangekla is van seksuele wangedrag met ʼn persoon jonger as 16. Die voormalige voorryman van die Scarlets en Sale is in April aangestel. Volgens Rugby Samoa sal die soektog na ʼn nuwe hoofafrigter begin terwyl die sport in die land stormagtige tye beleef. Hulle moes weens finansiële kwessies in November aan drie toetse onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-25-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-640-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….