Nuus 07:00
BULLETIN 6 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu eis die heraanstelling van alle personeel van die Gemeenskapswerkprogram
# Donald Trump beskou Italië se premier as ‘n fantastiese vrou
# En laastens, die donkie wat Eddie Murphy se karakter in Shrek geïnspireer het, is dood
# Saftu doen ‘n beroep op alle progressiewe magte om aan te sluit by die stryd teen die beëindiging van kontrakte vir werkers van 55-jaar en ouer wat deel is van die Gemeenskapswerkprogram. Saftu se woordvoerder, Mogoshadi Maserumule sê Suid-Afrikaners kan gesamentlik aandring op ‘n regering wat mense bo winste stel en waardigheid vir alle werkers verseker, ongeag hul ouderdom. Sy sê baie van hierdie werkers is sedert die ontstaan van die program in 2010 deel daarvan en vul die kritieke leemtes wat deur vakatures in die regering veroorsaak word:
Die MK Party eis intussen die onmiddellike herroeping van die regering se besluit om die Gemeenskapswerkprogram-kontrakte vir mense van 55 jaar en ouer te beëindig. Die party vra ook ‘n verbintenis om die lewensbestaan van die deelnemers te beskerm. Visvin Reddy van die MK sê die program, wat tydens president Jacob Zuma se administrasie ingestel is, was ‘n baanbrekersingryping en daarop gemik om armoede en werkloosheid te verlig deur een-miljoen werksgeleenthede te skep:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Vlak 8-waarskuwing uitgereik vir verspreide reënval wat vandag oor groot dele van KwaZulu-Natal verwag word en tot Woensdag sal voortduur. Die diens sê die reën kan lei tot wydverspreide oorstromings van paaie en nedersettings, lewensgevaar, en die verlies van vee langs die kus van KwaZulu-Natal. Dit kan moontlik groot roetes in die provinsie ontwrig gedurende vakansiegangers se terugtog huis toe. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, sê rampbestuurspanne is op gereedheidsgrondslag geplaas.
# Amerika se verkose president, Donald Trump, het die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, as ‘n wonderlike vrou beskryf toe sy die jongste wêreldleier geword het wat sy Mar-a-Lago-woning in Palm Beach, Florida, besoek het. Meloni is ʼn lid van die regse Brothers of Italy-party. Sy het in Oktober 2022 aan bewind gekom en dis bekend dat sy bande het met die inkomende Trump-administrasie, en veral sy bondgenoot Elon Musk. Haar besoek aan Florida volg nadat sy verlede maand saam met Trump en Musk gaan eet het tydens die heropening van die Notre Dame-katedraal in Parys.
# Krieket: Australië het Sondag die vyfde toets teen Indië in Sydney met ses paaltjies gewen om die reeks met 3-1 te beklink. Indië was almal uit vir 157 na 45 minute in die oggendsessie van dag drie. Die gashere het die teiken van 162 voor teetyd bereik teen ‘n Indiese aanval sonder die beseerde bouler Jasprit Bumrah. Australië het daarmee die Border-Gavaskar-trofee vir die eerste keer sedert 2014-’15 gewen. Die oorwinning het ook hulle plek in die Wêreldtoetskampioenskap verseker. Hulle sal hul titel in die Junie-eindstryd teen Suid-Afrika verdedig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-709-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-64-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die donkie wat vermoedelik Eddie Murphy se karakter in die Shrek-rolprente geïnspireer het, het op 30 gevrek. Die miniatuur-donkie Perry het gely aan die pynlike hoefsiekte, laminitis. Perry is in 1994 gebore en het vanaf die ouderdom van drie in Barron Park in Palo Alto, Kalifornië, gebly. Die eerste Shrek-rolprent is in 2001 vrygestel en het ‘n Oscar vir beste animasie-rolprent gewen. Dit vertel die verhaal van ‘n eensame dierasie wat bevriend raak met ‘n pratende donkie met ‘n uitstekende sin vir humor. Donkies leef gewoonlik tussen 25 en 40 jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….