Nuus 07:00
BULLETIN 18 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Floyd Shivambu sê Mayibuye Afrika het nie van die MK-party of die EFF weggebreek nie
# Die Referendum Party sê president Ramaphosa sien nie dat die ANC die land verlam nie
# En Europese leiers sal vandag by Trump en Zelensky in die Withuis aansluit
# Die Mayibuye Afrika-beweging se nasionale sameroeper, Floyd Shivambu, sê die uitslag van die algemene verkiesing in 2024 het bewys politieke partye slaag nie daarin om die meerderheid se harte te wen nie. Die beweging se raadplegingsproses oor die moontlike stigting van ‘n nuwe politieke party, is Sondag in KwaZulu-Natal afgehandel. Shivambo, die MK-party se voormalige sekretaris-generaal en gewese EFF-adjunkpresident, sê die beweging is nie ʼn wegbreekparty van die MK-party of die EFF nie, maar ʼn organisasie wat op sy eie bestaan:
# Die Referendum Party sê president Cyril Ramaphosa weier om te erken dat die ANC-bewind en -beleid die ekonomie steeds verlam. Woordvoerder Joan Swart sê armoede duur voort en ongelykheid bly krisisse wat nie toevallig is nie, maar die onvermydelike gevolg van beleid wat die ekonomie verlam het, staatsvermoë uitgehol en korrupsie verskans het:
# Die groot kripto-platform Luno doen ‘n beroep op die regering om Raadskennisgewing 90 te wysig om Kollektiewe Beleggingskemas toe te laat om ‘n persentasie van hul batetoewysing in kripto-bates, soos Bitcoin, te belê. Dit volg op ‘n onlangse antwoord in die Parlement deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, dat kripto-bates steeds as riskante beleggings beskou word. Luno se hoofbestuurder vir Afrika en Europa, Marius Reitz, sê hierdie siening is teenstrydig met die groeiende internasionale institusionele aanvaarding van kriptogeldeenhede. Hy sê gewone beleggers kan baat vind by digitale finansies en hul welvaart laat groei.
# ʼn Sesjarige graad R-leerder van Letsatsing Primary Mine School in Carletonville is Vrydag in ʼn fratsongeluk dood. Die leerder het volgens berigte ernstige beserings opgedoen terwyl sy op ʼn skoolbus geklim het om skool toe te gaan. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die kind is na die Carletonville Hospitaal gehaas vir mediese sorg:
# Europese leiers sluit vandag in die Withuis by Oekraïne se president Volodymyr Zelensky aan vir ʼn ontmoeting met president Donald Trump. Die leiers sluit die Franse president Emmanuel Macron, Britse eerste minister Keir Starmer, en president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, in. Die onderhandelinge sal onder meer veiligheidswaarborge, gebiedskwessies en voortgesette ondersteuning vir Oekraïne teen Russiese aggressie insluit. Die ontmoeting volg nadat Trump nie Vrydag in Alaska ʼn vredesooreenkoms tydens ʼn ontmoeting met die Russiese president Vladimir Putin kon bereik nie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Herman Loubser het sy tweede Sonskyntoer-titel opgeraap toe hy die Origins of Golf in die Vrystaat gewen het. Hy het sy landgenoot, Yurav Premlall, op die eerste putjie van ʼn uitspeelronde geklop. Die twee was gelykop met agt onder baansyfer na hulle onderskeie finale rondes van 69 en 72. Die Suid-Afrikaners Pieter Moolman en George Coetzee, en Joe Long van Engeland, was gesamentlik derde op ses onder. Loubser sê hy is tevrede met sy prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-745-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….