Nuus 07:00
BULLETIN 3 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM vra vir versterkte seksvoorligting in skole
# Ekonome verwag dat Suid-Afrika se ekonomie in 2025 sal verbeter
# En Krieket: Die Proteas maak drie veranderings vir die tweede toets wat vandag op Nuweland begin
# Die UDM is diep besorg oor berigte van ‘n 13-jarige meisie wat op Kersdag geboorte geskenk het, en ‘n 12-jarige op Nuwejaarsdag. Die party-lid, Yongama Zigede sê die UDM doen ‘n dringende beroep vir verbeterde seksvoorligting in skole en meer toegang tot jeugvriendelike gesondheidsorgdienste. Hy sê hierdie gevalle beklemtoon Suid-Afrika se voortdurende krisis met tienerswangerskappe, en dit weerspieël sistemiese mislukkings in onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike ondersteuning:
Die direkteur van die Family Policy Institute, Errol Naidoo, sê intussen gebroke gesinstrukture is ‘n hoofoorsaak van Suid-Afrika se hoë syfer vir tienerswangerskappe. Dit volg op onrusbarende syfers, en aanklagte van statutêre verkragting. Naidoo het aan die SABC gesê die gebrek aan ‘n vaderfiguur word verbind met verhoogde tienerswangerskappe en skoolverlating. Hy vra vir dringende optrede om hierdie neiging hok te slaan:
# Ekonome meen Suid-Afrika se ekonomie het ʼn positiewe vooruitsig vir 2025 en verwag groei van 2,2-persent. Sleutelfaktore wat daartoe bydra, sluit in verbeterde verbruikersbesteding, laer inflasie en beter prestasie met uitvoere. Strukturele verbeterings in elektrisiteit, logistiek en fiskale beleid sal groei na verwagting verder ondersteun, terwyl inflasie teen jaareinde na verwagting onder 4.5-persent sal wees. Ekonome waarsku egter geopolitieke risiko’s, veral die beleid na die Amerikaanse verkiesing en veral tariewe, kan groei en inflasie beïnvloed.
# Die hoof van die Hamas-beheerde polisiemag van Gaza en sy adjunk en nog nege mense is dood in ‘n Israelse aanval op ‘n tentkamp vir vlugtende families. Hamas se ministerie van binnelandse sake het wat hy noem die sluipmoord op Mahmoud Salah en Hussam Shahwan veroordeel, terwyl Israel bevestig het Shahwan was die teiken van die aanval. Die haglike toestande waarin die vlugtende families in kampe leef word deur koue, gure weer vererger. Hamas se burgermag sê meer as een-duisend-500 tente regoor Gaza is sedert Dinsdag deur riool en reënwater oorstroom.
# Krieket: Die Proteas het drie veranderings aangebring aan die span wat in die tweede toets teen Pakistan te staan kom wat vanoggend op Nuweland in Kaapstad begin. Die 18-jarige Kwena Maphaka word Suid-Afrika se jongste toetsspeler en die veelsydige Wiaan Mulder en draaibouler Keshav Maharaj is terug in die span. Hulle vervang die beseerde kolwer Tony de Zorzi, die veelsydige Corbin Bosch en snelbouler Dane Paterson. Dit is Suid-Afrika se laaste toets voor die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap in Junie op Lord’s. Spel begin vanoggend om half-elf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-897-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….