Nuus 07:00
BULLETIN 2 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Regering van Nasionale Eenheid het Suid-Afrikaners van regoor die politieke spektrum verenig
# Die Drieparty-alliansie se doelwitte vir 2025 fokus op die werkersklas en ekonomiese kwessies
# En, die FBI ondersoek ‘n terreurdaad nadat ‘n aanvaller minstens 15 mense in New Orleans vermoor
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners kan 2024 beskou as ‘n jaar van verandering en vooruitgang. Die president het in sy Nuwejaarsboodskap aan Suid-Afrika, verwys na die verkiesing op 29 Mei. Hy sê die Regering van Nasionale Eenheid het Suid-Afrikaners verenig en die land kan die vordering vier wat gemaak is met die bou van ‘n samelewing wat gegrond is op ideale van vryheid, gelykheid en menseregte:
# Die Drieparty-alliansie, bestaande uit die ANC, die SAKP en die vakbondfederasie Cosatu, het ingestem om die uitdagings van die werkersklas voorop te stel in 2025. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beklemtoon belangrike aspekte van handelsbetrekkinge, verbeterings in bestuur en hervormende wetgewing. Alex Mashilo van die SAKP vra ‘n fokus op ekonomiese ongelykheid, terwyl Solly Phetoe van Cosatu ‘n stryd vir werkersregte bepleit. Alle partye versoek Suid-Afrikaners om saam te staan vir vooruitgang en ekonomiese vrywording.
# ‘n Man is na bewering Woensdag deur ‘n e-taxibestuurder in Strandfontein, Kaapstad, doodgeskiet en nog een gewond. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, Sersant Wesley Twigg, sê volgens berigte het die bestuurder sy kliënte na Strandfontein geneem toe hulle hom met ‘n vuurwapen probeer beroof het. Hy sê die bestuurder het toe op sy aanvallers geskiet:
# Die FBI ondersoek ‘n dodelike aanval Woensdag in New Orleans as ‘n daad van terrorisme en het bevestig die verdagte is dood. Vyftien mense het gesterf en minstens 35 is beseer, nadat ‘n man met ‘n bakkie in ‘n groot skare ingery het. Die voorval het in die French Quarter plaasgevind, ‘n gewilde gebied vir besoekers aan die Louisiana-stad. Die polisie sê die bestuurder was vasbeslote om ‘n bloedbad te skep en het ook op beamptes losgebrand. Die FBI het vroeër gesê ‘n selfgemaakte ploftoestel is op die toneel gevind.
# Tennis: Die Australiese buiteperd Kimberly Birrell het die tweede gekeurde Emma Navarro Woensdag in die Brisbane Internasionale kampioenskap uigeskakel. Die 26-jarige Birrell is 113de gekeur en kom in die laaste 16 teen die 35ste gekeurde Rus, Anastasia Potapova, te staan. Die verdedigende kampioen, Grigor Dimitrov, is deur na die kwarteindronde nadat hy die Australiër, Aleksandar Vukic, in skoon stelle geklop het. Hy speel nou teen die Amerikaner Alex Michelson. Novak Djokovic en Nick Kyrgios se dubbelspelreis is egter deur die eerste gekeurde Michael Venus van Nieu-Seeland en Nikola Mektic van Kroasië gestuit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-822-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-633-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….