Nuus 07:00
BULLETIN 30 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stuur Sydney Mufamadi vir samesprekings met Mosambiekse leiers te midde van toenemende onrus in dié buurland
# Popcru is bekommerd oor die toenemende aantal moorde en selfdoodgevalle onder polisielede
# En, Krieket: Kagiso Rabada se uitstaande kolfwerk besorg aan Suid-Afrika ‘n 2-paaltjie-sege en plek in die Wêreldtoetskampioenskap
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se raadgewer oor nasionale veiligheid, professor Sydney Mufamadi, as spesiale gesant aangewys om met Mosambiekse leiers te beraadslaag oor die toenemende onrus in die buurland. Tebello Mosikili van NatJoints sê die regering is vasberade om die veligheid en sekuriteit van sy burgers, asook stabiliteit in die streek te verseker. Sy sê die regering maan sy burgers om kalm bly en nié onbevestigde inligting te versprei wat onnodige paniek kan veroorsaak nie:
# Die Polisie- en Gevangenis-vakbond Popcru is diep ontsteld en hartseer oor die toenemende aantal moorde en selfdoodvoorvalle onder wetstoepassers. Die volg nadat die polisiesersant Mandla Buthelezi in hegtenis geneem is omdat hy na bewering sy meisie, die misdaadvoorkomingsbeampte Chesnay Keppler, in Eldoradopark, Gauteng, vermoor het. Richard Mamabolo van Popcru sê die selfdoodgevalle onder wetstoepassingbeamptes is ook hartverskeurend en ‘n ernstige krisis wat nie langer ignoreer kan word nie:
# Die voormalige Amerikaanse president, Jimmy Carter is dood. Carter was die 39ste president vir een termyn en die enigste voormalige Amerikaanse president wat die ouderdom van 100 bereik het. Die Amerikaanse president, Joe Biden, beskryf Carter as ‘n man van beginsel, geloof en nederigheid en die verkose president, Donald Trump sê Amerikaners moet dankbaar wees vir Carter. Carter was ‘n grondboontjieboer en ‘n luitenant in die Amerikaanse vloot voor hy die politiek betree het. Hy was vir een termyn die goewerneur van Georgia en vanaf 1977 tot 1981, die president van die Verenigde State.
# Krieket: Kagiso Rabada het in een van sy beste vertonings ooit Sondag ‘n verstommende en spannende oorwinning van twee paaltjies aan Suid-Afrika besorg in hul eerste toets teen Pakistan in Centurion. Hy het ‘n onoorwonne 31 van slegs 26 balle gemoker tydens ‘n deurslaggewende vennootskap van 51 om die negende paaltjie met sy mede-snelbouler Marco Jansen. Die oorwinning het aan die Proteas ‘n plek in die Wêreldtoetskampioenskap in Junie op Lords verseker. Die tweede toets op Nuweland in Kaapstad begin op 3 Januarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-592-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-627-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte, die jaar eindig op ‘n hoë noot vir ‘n Lottospeler wat die naweek die Lotto Plus Een se boerpot van 40-miljoen-rand gewen het. Die operateur Ithuba sê die speler het in Saterdag se trekking ses nommers reg gehad, terwyl niemand die Lotto- of Lotto Plus Twee-boerpot gewen het nie. Dit beteken die Lotto-trekking sal Woensdag op 32-miljoen-rand staan, en Plus Twee op drie-miljoen-rand. Dinsdag se PowerBall-boerpot word geraam op 55-miljoen-rand, en die PowerBall Plus op 16-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….