Nuus 07:00
BULLETIN 27 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê geweld en ‘n tronkontsnapping in Mosambiek veroorsaak kommer in die streek
# Gauteng moedig nuwe ouers aan om na die gesondheid van Kersfeesbabas om te sien
# En Krieket: Pakistan is almal uit vir 211 op Dag Een met Paterson en Bosch wat saam 9 paaltjies neem
# Die Activists and Citizens Forum moedig die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aan om Mosambiek se toenemende na-verkiesingsgeweld aan te spreek. Dit volg na ‘ n massa-ontsnapping uit ‘n tronk in Maputo dié week en voortgesette na-verkiesingsbetogings. Die opposisieleier Venancio Mondlane het kalmte gevra terwyl die verkose president Daniel Chapo verkiesingshervorming beloof het. Dennis Bloem van die Forum beklemtoon dialoog, en het verwys na die streeks-ekonomiese impak en die tragiese lewensverlies:
# Gauteng het 393 babas verwelkom wat op Kersdag by akademiese, tersiêre, streeks- en distrikshospitale en gemeenskapsgesondheidsentrums regoor die provinsie gebore is. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het die nuwe ouers geluk en sterkte toegewens om hul kinders groot te maak om betekenisvol tot die samelewing by te dra. Die hoof van kommunikasie vir die provinsiale Departement van Gesondheid, Motalatale Modiba sê daar is ‘n belangrike boodskap vir ouers:
# Drie mense wat in hegtenis geneem is na ‘n onderonsie by ‘n vakansieoord in Noordwes sal na verwagting vandag in die Landdroshof in Orkney verskyn. Die eienaar van Hanscombe’s Haven, Mark Hanscombe, is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy steekwonde opgedoen het in die voorval op Versoeningsdag. Dit het gebeur nadat besoekers sy versoek geweier het om hulle hubbly bubbly-pyp te oorhandig. Die polisie sê die drie word aangekla van poging tot moord, terwyl hulle aanrandingsake teen Hanscombe ingedien het.
# Die verkose Amerikaanse president Donald Trump sê hy sal die doodstraf verskerp tydens sy tweede ampstermyn en het belowe om “verkragters, moordenaars en monsters” te teiken. Trump se aankondiging volg nadat die uittredende Amerikaanse president Joe Biden sy presidensiële kwytskeldingsbevoegdhede gebruik het om die vonnisse van byna alle federale gevangenes wat ter dood veroordeel is, tot lewenslange tronkstraf sonder parool te versag. Trump sê sodra hy ingehuldig word, sal hy die Departement van Justisie opdrag gee om op die doodstraf te fokus om Amerikaanse gesinne en kinders te beskerm.
# Krieket: Pakistan is uitgeboul vir ‘n beskeie 211 met Suid-Afrika wat 82 vir 3 op die telbord gehad het, aan die einde van spel op die openingsdag van die eerste toets in Centurion. Dane Paterson het vir die tweede keer in opeenvolgende wedstryde vyf paaltjies geneem, terwyl Corbin Bosch vier in sy debuut vir die Proteas laat kantel het. Aiden Markram het die Proteas se kolfbeurt met ‘n onoorwonne 47 oorheers, maar Tony de Zorzi, Ryan Rickelton en Tristan Stubbs is almal met enkelsyfers terug pawiljoen toe. Suid-Afrika sal vanoggend hervat met Markram en Temba Bavuma op die kolfblad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-199-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….