Nuus 07:00
BULLETIN 24 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Energie-ontwikkeling vra geherstruktureerde tariewe om elektrisiteitspryse te verlaag
# Krieket: Die Protea-afrigter glo hulle kan steeds die Kampioenebeker-toernooi wen
# En, Feestyd treffersgeskiedenis word gemaak met Wham se Last Christmas
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Energie-ontwikkeling het Eskom versoek om elektrisiteitskoste te verlaag deur tariewe te herstruktureer. Die hoof van die Energiesekretariaat, Sampson Mamphweli, het aan SABC News volhoubaarheid beklemtoon om arm huishoudings teen hoë koste te beskerm. Hy pleit vir hernubare energietegnologieë om bekostigbare toegang tot elektrisiteit te verseker en vra vinnige optrede om sukkelende gemeenskappe te ondersteun te midde van stygende tariewe:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, het aangekondig 143 amptenare is in die huidige boekjaar afgedank weens verskeie oortredings, terwyl ander gevalle nog ondersoek word. Hy het met die SABC gepraat na ‘n klopjag op New Prison in Pietermaritzburg, waar beslag gelê is op onwettige goedere soos kontant, selfone en ander elektroniese goedere in ‘n poging om sekerheid te verbeter en korrupsie teen te werk. Thobakgale wys op ‘n kommerwekkende afname in personeellede:
# Die Kremlin verwerp mediaberigte dat die vrou van die afgesette Siriese president, Basjar al-Assad, wil skei en Rusland verlaat. Die gesin het vroeër na Rusland gevlug nadat rebelle beheer oor hul land oorgeneem het. Volgens Turkse en Arabiese media wil Asma al-Assad skei, maar ‘n Kremlin-woordvoerder ontken dit en verwerp ook mediaberigte dat Assad tot Moskou beperk word en sy eiendomsbates gevries is. Die rebelle waarborg glo die veiligheid van Russiese militêre basisse en diplomatieke instellings in Sirië.
# Krieket: Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, glo hulle kan steeds die Kampioenebeker-toernooi wen ondanks die nederlaag van 3-nul in die eendagreeks teen Pakistan. Hy wys daarop sleutel-boulers was afwesig weens beserings of rus-protokol voor die belangrike reeks van twee toetse. Walter erken wel Suid-Afrika is uitoorlê in sleutel-oomblikke. Die Kampioenebeker-toernooi waaraan die gasheer, Pakistan, gaan meeding saam met die sewe beste lande in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi, begin op 19 Februarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-119-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-617-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-50-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Britse groep Wham! het geskiedenis gemaak met hul treffer Last Christmas wat die eerste liedjie geword het om twee jaar na mekaar as die nommer een Kersfees-liedjie gekroon te word. George Michael en Andrew Ridgeley moes 39 jaar wag om die feestyd top-plek te bereik in 2023, en het nou in 2024 weer so gemaak. Die hoof van Official Charts, Martin Talbot, sê Last Christmas is nou sonder twyfel gevestig as die Britte se gunsteling Kersliedjie ooit. Die Amerikaanse popster, Gracie Abrams is tweede met That’s So True en Mariah Carey met All I Want For Christmas Is You in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….