Nuus 07:00
BULLETIN 19 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verskerp inspeksies by grensposte om die invoer van onveilige goedere te voorkom
# Nog ses vermeende onwettige mynwerkers is in Stilfontein gearresteer
# En motorsport: Minister McKenzie kondig ’n bodbestuurskomitee aan om toesig te hou oor die F1-gasheerproses
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê inspeksie van ingevoerde voedselitems, medisyne, dwelms en plaagdoders by grensposte is verskerp. Dit volg op die meer as 890 gevalle en ongeveer 30 sterftes sedert September as gevolg van voedseloordraagbare siektes. Onlangs is beslag gelê op 470 liter plaagdoder by ‘n pakhuis en dis toegang tot die land geweier. Hlabisa sê die verskerpte beheer by al 71 grensposte, veral by hawens in KwaZulu-Natal insluitend Durban, is daarop gemik om die toegang van onveilige goedere te voorkom.
# Die mynwerkersvakbond NUM het ‘n drie-jaar loonooreenkoms met Exxaro Resources onderteken. Werkers by die Matla-steenkoolmyn in Mpumalanga sal vanaf Julie volgende jaar ‘n salarisverhoging van 6,5-persent ontvang, gevolg deur verhogings van sewe-persent. Die behuisingstoelaag vir kwalifiserende werknemers sal ook in 2026 met sewe-persent styg. NUM se streeksvoorsitter in die Hoëveld, Bizzah Motubatse, sê die ooreenkoms sluit ‘n verbintenis in om loongapings in die verskillende salarisgroepe te ondersoek:
# Nog ses vermeende onwettige mynwerkers is by twee skagte in Stilfontein in Noordwes in hegtenis geneem. Dit sluit in drie ongedokumenteerde buitelanders uit Lesotho, twee uit Zimbabwe en een uit Mosambiek. Sedert November het meer as eenduisend-500 onwettige mynwerkers uit verskillende skagte in Stilfontein na die oppervlak gekom terwyl die polisie voortgaan met Operasie Vala Umgodi. Dit sluit agt liggame in. ’n Onbekende aantal onwettige mynwerkers is glo steeds ondergronds. Die polisie sê die ses staan tereg op aanklagte van onwettige mynbou, betreding en die oortreding van die immigrasiewet.
# Suid-Afrika en Mosambiek het onderneem om ontwrigtings by belangrike grensposte, insluitend Lebombo en Ressano Garcia, aan te spreek om handel en streeksintegrasie te beskerm. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en die Mosambiekse minister van Binnelandse Sake, Pascoal Ronda, het na afloop van ‘n interministeriële vergadering in Malelane, Mpumalanga, ooreengekom om samewerking te verbeter, meer hulpbronne te ontplooi en alternatiewe handelsroetes te vind. Volgens Lamola sal ‘n gesamentlike tegniese span saamgestel word om oplossings te implementeer en grensoperasies te verbeter:
# Motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die totstandkoming van ‘n bestuurskomitee aangekondig om ‘n proses te lei om Formule Een na Suid-Afrika te bring. Hy het op ‘n nuuskonferensie op die Kyalami Grand Prix-baan in Midrand, Gauteng, gesê die komitee sal die stad en baan kies vir oorweging en evaluering van potensiële promotors, die bod koördineer en seker maak daar word aan alle vereistes voldoen vir ‘n wedren teen 2027:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-486-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-593-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….