Nuus 07:00
BULLETIN 17 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kondig ‘n Nasionale Dialoog aan
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ontken ‘n oudit van buitelandse huweliksertifikate
# En krieket: Engeland het ‘n groot voorsprong teen die Protea-vroue
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n Nasionale Dialoog sal volgende jaar gehou word om ‘n gesprek oor die vorming van die land se toekomstige ontwikkelingspad moontlik te maak. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Versoeningsdag-viering in Vredendal in die Wes-Kaap. ’n Bestuurskomitee om die nasionale dialoogproses te koördineer sal aangestel word. Ramaphosa sê die dialoog sal die proses van maatskaplike eenheid versterk en konsolideer, waar verskillende sektore en gemeenskappe bymekaarkom om gemeenskaplike oplossings te vind:
Ramaphosa sê ook die regering van nasionale eenheid het inklusiewe groei, werkskepping en transformasie vooropgestel. Hy sê die regering het ook die stryd teen armoede en die bou van ‘n bekwame ontwikkelingstaat eerste gestel. Die president sê die versterking van instellings wat korrupsie en misdaad moet beveg is noodsaaklik:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het sosialemedia-aansprake van ‘n landwye oudit van Binnelandse Sake se huweliksertifikate vir buitelanders van 2004 tot 2024 weerlê. Die SOE het verduidelik hy ondersoek spesifieke bewerings van wanadministrasie, insluitende onreëlmatighede met visums, permitte en burgerskapprosesse. Die eenheid het gewaarsku teen verkeerde inligting. Intussen het Binnelandse Sake 31 dissiplinêre sake teen amptenare tussen Julie en September 2024 afgehandel, wat wangedrag aanspreek, insluitend bedrog en immigrasiewetskendings.
# Israel het aangekondig hy sluit sy ambassade in Dublin weens Ierland se uiterste beleid teen Israel. Die stap volg op Ierland se aansluiting by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof. Ierland se minister van Buitelandse Sake, Micheál Martin, verdedig die besluit en spreek hulle besorgdheid uit oor die beskerming van die burgerlike bevolking. Oproepe om ‘n wapenstilstand word intussen verskerp namate die humanitêre krisis in Gaza vererger.
# Krieket: Die Engelse vrouespan loop met 145 lopies voor teen die einde van dag twee van hul eenmalige toets teen Suid-Afrika in Bloemfontein. Marizanne Kapp se 57 van 74 balle, die derde vinnigste vyftigtal deur ‘n Suid-Afrikaanse vrou, het die Protea-teenaanval gelei in reaksie op Engeland se eerste-beurttotaal van 395 vir nege. Die gasvroue is egter vir 281 uitgeboul, met die besoekers wat ‘n voorsprong van 114 lopies geneem het. Dié voorsprong is tot 145 vergroot met Tammy Beaumont en Heather Knight se 31 vir een in Engeland se tweede beurt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-198-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….