Nuus 07:00
BULLETIN 11 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge stel ‘n nie-rassige benadering voor vir die BELA Wet-debat
# Die Departement van Handel en Nywerheid ondersoek bewerings van wanadministrasie by die SABS
# En krieket: Die Proteas wen hul eerste T20 teen Pakistan
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge stel ‘n nie-rassige benadering voor in die voortgesette debat oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Die instituut se voorstel is om te fokus op die aantal klaskamers en dit te vermeerder en om ingewortelde kwessies in die onderwysstelsel te pak, eerder as om taalbeleid te gebruik en skole te dwing om dubbelmedium te word. Gabriel Crouse van die instituut vra die regering om die oorsake van swak onderwysprestasie te ondersoek en bepleit nie-rassige gebruike in skooltoelatings:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging stel volgens berigte ondersoek in na bewerings van wanadministrasie teen sommige uitvoerende hoofde by die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde. Dit volg nadat die DA onthul het dat ernstige wanbestuur die afgelope maande by die buro aan die lig gekom het. Dit sluit ‘n onwettig saamgestelde raad in met onvoldoende lede en bewerings van korrupsie, en dat senior bestuur die organisasie doelbewus destabiliseer. Die SABS is die statutêre liggaam wat verantwoordelik is vir produkte se standaarde en gehalte.
# Die Padongelukkefonds waarsku oor mense wat hulself doelbewus teen stadig-bewegende voertuie slinger om bedrieglike eise in te dien. Die fonds herhaal hierdie gevaarlike neiging knou sy hulpbronne en bring regmatige eisers se sake in gedrang. Die POF het beklemtoon hy vergoed nie opsetlike ongelukke of die begunstigdes van sulke gevalle nie. Die fonds het in ‘n verklaring gesê van 2021 tot vanjaar is meer as 49-duisend eise geweier, met verwysing na bedrog en nalatigheid. Die fonds dring aan padveiligheid moet vooropgestel word hierdie feestyd.
# Die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings, gelei deur die LUR Tasneem Motara, verskerp sy pogings om die agterstand van 1,2-miljoen in behuising aan te pak. Sleuteluitdagings soos projekte wat tot stilstand gekom het, onwettige besettings en onderbrekings op persele is tydens ‘n vergadering met projekbestuurders bespreek. Die departement se woordvoerder, Tahir Sema, sê die departement is van plan om moniteringstelsels te verbeter, die samewerking met professionele entiteite te versterk en gereelde toesigbesoeke te doen om dienslewering te verbeter en die behuisingsteikens te bereik:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, noem die korrupsie-aanklagte teen hom ʼn see van absurditeit. Die 75-jarige Netanyahu het gister in Tel Aviv in die hof verskyn op aanklagte van omkopery, bedrog en vertrouensbreuk. Hy ontken die aanklagte. Aanklaers beweer Netanyahu het aan twee mediamaatskappye voordelige regulasies toegestaan in ruil vir gunstige dekking oor hom en sy vrou. Netanyahu het aan die hof gesê hy het agt jaar gewag om die waarheid te vertel, wat belangrik is vir geregtigheid.
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan met elf lopies verslaan in die eerste T20 op Kingsmead in Durban en loop met een-nul voor in die reeks van drie wedstryde. David Miller het 82 lopies behaal en George Linde het 48 bygedra tot die Proteas se telling van 183 vir nege in hulle 20 boulbeurte. In antwoord daarop het Linde vier paaltjies vir 21 lopies platgetrek, wat sy beste in T20 is. Pakistan is tot 172 vir agt beperk. Linde sê hy is bly om terug te wees in die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-408-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-699-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….