Nuus 07:00
BULLETIN 4 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane word van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling na Menslike Nedersettings geskuif
# Paul Mashatile se kantoor verduidelik ‘n geskenk wat sy vrou van Louis Liebenberg ontvang het
# En die toerismesektor maak gereed vir die G20-presidentskap
# President Cyril Ramaphosa het sy kabinet gewysig en die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, na Menslike Nedersettings verskuif. Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi sal haar vervang. Simelane is onder druk ná onthullings dat sy in 2016 ’n lening van Gundo Wealth Solutions wat met VBS Bank verbind word, ontvang het terwyl sy Polokwane se burgemeester was. Die adjunkminister van Arbeid en Indiensneming, Phumzile Mgcina ruil posisies met die adjunkminister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Judith Nemadzinga-Tshabalala.
# Adjunkpresident Paul Mashatile se kantoor het bevestig sy vrou Humile het ‘n ongevraagde geskenk, ʼn edelsteen, van die vermeende diamantskema-bedrieër, Louis Liebenberg, ontvang. Die hoof van die kantoor, Mduduzi Mbada, het die steen se egtheid en waarde deur beroepspersone laat bepaal om dit aan die Parlement te verklaar. Nadat bewerings teen Liebenberg aan die lig gekom het, het Mbada besluit om die steen terug te gee. Mashatile se kantoor sê hulle maak tans gereed om dit te doen.
# Die Toerismesakeraad se uitvoerende hoof, Tshifhiwa Tshivhengwa, sê Suid-Afrika is gereed om te skitter nadat hy die G20-presidentskap vir 2025 aanvaar het. Die versterkte posisionering van die mark bevorder internasionale konferensies, insluitend die G20-beraad, wat op sy beurt groei in sake- en ontspannings-toerisme bevorder. Tshivhengwa versoek verbeterde veiligheid om meer besoekers te lok en die land se toerisme-golf te handhaaf:
# Die voormalige uitvoerende hoof van Tubular Construction, Antonio Trindade, is ná ʼn mediese ondersoek by die Sterkfontein Hospitaal onbevoeg verklaar om verhoor te word. Die saak hou verband met ʼn kontrak van 1,4-miljard-rand om die Kusile-kragstasie op te gradeer. Ander beskuldigdes is die gewese Eskom-hoofde Frans Hlakudi en Abram Masango, sakepersoon Maphoko Kgomoeswana, en gewese Tubular-raadgewer, Michael Lomas. Die ondersoekdirektoraat teen korrupsie se woordvoerder, Henry Mamothame, sê die Gautengse Hooggeregshof sal volgende jaar die jongste oor Trindade se gesondheid kry:
# Suid-Korea se president, Yoon Suk Yeol, het ʼn noodkrygswet afgekondig en beskuldig die opposisie dat hulle ʼn opstand beplan. Dit het tot betogings buite die Parlement gelei. Hy sê die krygswet is ʼn noodsaaklike maatreël om magte wat pro-Noorde en teen die staat is, uit te wis. Kort na die afkondiging het 190 van die 300 parlementslede gestem om die maatreël om te keer. Die Nasionale Vergadering se voorsitter, Woo Won-sik, sê die noodkrygswet-verklaring is ongeldig en burgers kan gerus wees dat wetgewers demokrasie sal verdedig.
# Motorsport: Vroue-ondersteuners is aan die voorpunt van ‘n skerp toename in steun vir Formule Een in die Midde-Ooste, volgens data deur Nielsen Sports. Vroue is wêreldwyd die demografie wat die vinnigste groei. Vier wedrenne vind jaarliks in die Golf-gebied plaas, insluitend komende naweek se laaste Grand Prix van die seisoen in Abu Dhabi. Die syfers toon vroue-ondersteuners se belangstelling in die sport het die afgelope jaar in Saoedi-Arabië met 11-persent gestyg met die grootste groei in die ouderdomsgroep 50 tot 69. Een-en-veertig persent van F1-aanhangers is vroue.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-641-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-640-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….