Nuus 07:00
BULLETIN 15 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê die weermaghoof se besoek aan Iran was onbesonne
# Minister Motsoaledi vra die Hooggeregshof om alle NGV-sake op te skort
# En ‘n VN-verslag toon seksuele geweld in konflikgebiede styg skerp in 2024
# Die Presidensie sê die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, generaal Rudzani Maphwanya se reis na Iran was nie goedgekeur nie. Tydens ‘n besoek aan Teheran, het Maphwanya en Iran se weermagbevelvoerder, Amir Hatami, volgens berigte hulle lande se gedeelde doelwit geloof om globale arrogansie en aggressiewe koloniale benaderings te beveg. Maphwanya het ook Israel se vermeende aanvalle op Palestyne wat in rye staan vir kos, veroordeel. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Maphwanya se uitlatings is kommerwekkend:
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Sosiale Sekerheid het kommer uitgespreek oor onwettige maandelikse aftrekkings van begunstigdes se maatskaplike toelaes deur versekering- en begrafnismaatskappye. Slegs een toegestaande aftrekking word per maand toegelaat, en begrafnispolis-aftrekkings word nie op kinder- en gestremdheidstoelaes toegelaat nie. ‘n Woordvoerder vir die agentskap, Andile Tshona, sê hulle kan nie aftrekkings goedkeur sonder die begunstigde se toestemming nie:
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê versplintering in e-taxi-leierskap belemmer vordering met die oplossing van bedryfsgeskille. Tlabela het voor Maponya-winkelsentrum gepraat ná die dood van ‘n e-taxi-bestuurder en gesê die departement beplan om die sektor te formaliseer om deurlopende betrokkenheid te verseker en onwettige bedrywighede aan te pak. Sy beklemtoon die departement sal tussen taxi-operateurs en e-taxi-groepe bemiddel om ‘n billike bestaan vir almal in die vervoersektor te verseker:
# Meer as vier-duisend-600 oorlewendes het in 2024 mishandeling verduur wat gebruik is as wapens van oorlog, marteling, terrorisme en politieke onderdrukking. Dit is 25-persent meer as die vorige jaar. Dit volg die Verenigde Nasies se jaarlikse verslag oor konflikverwante seksuele geweld. Die verslag dek 21 lande en 92-persent van die slagoffers is vroue en meisies. Die verslag toon ʼn styging in seksuele geweld tydens aanhouding, waar dit gebruik word as marteling of om inligting te bekom. Die VN vra lande om seksuele geweld te verbied.
# Gholf: Die Mexikaan Luis Carrera gaan probeer om sy derde titel op die Sonskyn-toer te buit wanneer hy vandag in die Vodacom Origins of Golf by die Parys-gholflandgoed in die Vrystaat afslaan. Die Suid-Afrikaner Jean Hugo keer terug as die gunsteling wat al ʼn rekord van 12 Vodacom Origins of Golf-titels gewen het. Die sterk veld sluit Stephen Ferreira van Portugal in wat al 13 keer onder die Sonskyn-toer se toptien klaargemaak en een gewen het, asook die Duitser Allen John en Suid-Afrikaner Pieter Moolman.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-677-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….