Nuus 07:00
BULLETIN 2 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku die BELA-wet grasietydperk moenie misbruik word nie
# Die Vervoerdepartement identifiseer 20 hoë-ongeluk-brandpunte
# En krieket: Gerald Coetzee sal die tweede Sri Lanka-toets en die toer teen Pakistan misloop
# President Ramaphosa sê die gesag wat hy aan partye gegee het wat belangstel in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, om insette lewer oor die twee omstrede klousules, moenie misbruik of as onbelangrik beskou word nie. Klousule vier en vyf van die Wet gaan oor taal- en toelatingsbeleid in openbare skole. Hy het by ‘n ANC-geleentheid in Thabazimbi, Limpopo, gesê die sperdatum wat hy vir oplossings oor die klousules gestel het, kan nie verander word nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê wetstoepassingsowerhede sal 20 roetes wat as hoërisiko-ongeluksones in die land geïdentifiseer is, oor die feestyd polisieer. Die brandpunte sluit Mpumalanga se R573 by KwaMhlanga en Gauteng se R21 by Kemptonpark in. Tot dusver vanjaar het tien-duisend-154 mense op die land se paaie gesterf. Creecy het gister tydens die Feestyd-padveiligheidveldtog se bekendstelling in Pretoria gesê wetstoepassers sal vanjaar padveiligheid en nakoming van wette verseker:
# Die minister van Verdediging Angie Motshekga verwerp bewerings van wydverspreide wangedrag in die SANW, en benadruk geïsoleerde gevalle kenmerk nie die weermag nie. Sy het reageer op berigte oor ‘n gebrek aan dissipline in vredesendings in die DRK, en wys op streng dissiplinêre maatreëls, waaronder militêre verhore en ontslag. Motshekga bevestig seksuele wangedrag word nie geduld nie, en lê klem op opleiding oor nasionale verteenwoordiging voor ontplooiings. Hoewel agt soldate in 2023 gestraf is oor die verbreking van aandklokreëls, het sy herhaal wanoptrede is nie ingeburger in SANW-operasies nie.
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng sit met ‘n begrotingstekort van 4,8-miljard-rand, wat betalings aan verskaffers en personeelsalarisse bedreig. Jack Bloom van die DA sê om 54-persent van sy begroting van 64,8-miljard-rand binne ses maande te bestee het gelei tot die bevriesing van werwing en toerusting. Bloom maan ook teen ernstige risiko’s vir pasiënte omdat die department se geld teen Maart volgende jaar op kan wees. Hy vra dringende ingryping, en noem die wanadministrasie wat ondersoek word.
# Die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge, Unrwa, het hulpverlening deur Kerem Shalom, die hoofdeurgangspunt vir humanitêre hulp na Gaza, opgeskort. Gewapende bendes het Saterdag ʼn humanitêre konvooi aangeval. Verlede maand is ʼn konvooi van 109 vragmotors met kos deur gewapende, gemaskerde mans aangeval wat 97 van die vragmotors gesteel het. Die Unrwa-hoof, Philippe Lazzarini, sê die lewering van humanitêre hulp moet nooit gevaarlik wees of in ʼn beproewing ontaard nie. Hy doen ʼn beroep op Israel om seker te maak hulp word veilig na Gaza vervoer.
# Krieket: Die Protea-snelbouler, Gerald Coetzee, gaan die tweede toets teen Sri Lanka, en die komende alle-formate-toer teen Pakistan weens ʼn liesbesering misloop. Die 24-jarige speler het Saterdag tydens die eerste toets in Durban ongemak ervaar. ʼn Skandering het getoon ʼn spier in sy regterlies is verrek. Hy sal vier tot ses weke buite aksie wees. Die jong Lions-speler, Kwena Maphaka, vervang Coetzee in die tweede toets wat Donderdag op St George’s Park in die Baai begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-96-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….