Nuus 07:00
BULLETIN 26 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement neem die Phala Phala-kwessie na die Konstitusionele Hof
# Sanco doen ‘n beroep op die regering om die Stilfontein-mynwerkers te red
# En die Israelse kabinet stem oor ‘n Libanon-skietstilstandooreenkoms
# Die African Transformation Movement het dokumente by die Konstitusionele Hof ingedien om die Nasionale Vergadering se verwerping van die bevindings van die Artikel 89-paneel oor die Phala Phala-plaasdiefstal om te keer. Volgens die uitspraak was daar ‘n prima facie-saak teen president Cyril Ramaphosa. ATM voer aan die Parlement het sy grondwetlike plig versuim om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou en het demokratiese beginsels geskend. Hulle voer aan die gesag van die meerderheid is misbruik en versoek die hof om deursigtigheid, geregtigheid en die nakoming van verpligtinge oor grondwetlike toesig te verseker.
# Die ministerie van Polisie het die hof se uitspraak oor onwettige mynwerkers verwelkom, veral ten opsigte van die voortgesette bedreiging vir die ekonomie en openbare veiligheid. Minister Senzo Mchunu het beklemtoon dat die hof se uitspraak is in ooreenstemming met wetgewing oor die grondwet. Volgens Mchunu is samewerking tussen die regering en belanghebbendes noodsaaklik. Hy bevestig die huidige proses om onwettige mynwerkers uit te kry sal voortgaan en sê geen onwettige mynwerker sal ondergronds agterbly nie:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het berigte verwerp dat ‘n agtjarige meisie van Soweto se dood met die regering se skolevoedingsprogram verband hou. Die graad 2-leerder het verlede Woensdag siek geword nadat sy blykbaar koekies van ʼn plaaslike spazawinkel geëet het. Haar toestand het oor die volgende twee dae erger geword en sy is Vrydag in die hospitaal dood. Chiloane sê die oorsaak van haar dood is nog nie vasgestel nie:
# Die burgerregte-organisasie, Sanco, in Noordwes doen ʼn beroep op die regering om die onwettige mynwerkers te red wat nog ondergronds vasgekeer is. Sowat vier-duisend onwettige mynwerkers is steeds ondergronds in ʼn ongebruikte skag by die Stilfontein-myn. Meer as een-duisend onwettige mynwerkers het die afgelope weke uitgekom sedert die polisie met Operasie Vala Umgodi begin het. Sanco-woordvoerder, Mzukisi Jam, sê die regering se stadige optrede is teleurstellend:
# Israel se kabinet stem volgens berigte vandag oor ʼn skietstilstand-ooreenkoms met Hizbollah in Libanon. Die konflik tussen Israel en Hizbollah het in September in ʼn volskaalse oorlog ontaard toe Israel homself verdedig het en drie-duisend-500 Libanese burgers en talle Hizbollah-leiers dood is. Volgens berigte sal die ooreenkoms beteken die Israelse Weermag onttrek heeltemal uit die suide van Libanon terwyl Hizbollah sy swaar wapentuig tot noord van die Litani-rivier verskuif. Israel se ambassadeur by die VN, Danny Danon, sê hulle sal in enige ooreenkoms die vermoë behou om suidelike Libanon te tref.
# Krieket: Die ervare kolwer Kane Williamson keer terug na Nieu-Seeland vir die drie toetse teen Engeland wat Donderdag in Christchurch begin. Hy het die onlangse toer in Indië weens ‘n liesbesering misgeloop. Afrigter Gary Stead sê die gewese kaptein sal een van die kolwers vervang wat hulle gehelp het om skoonskip te maak in die reeks van drie toetse. Hy sê hulle sien daarna uit om Williamson terug te hê met sy rekord. Die 34-jarige het agt-duisend-881 lopies aangeteken en 30 paaltjies geneem in sy 102 toetse vir Nieu-Seeland sedert 2010.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-674-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….