Nuus 07:00
BULLETIN 16 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beveel die onmiddellike sluiting van spazawinkels wat verbind word met sterftes
# Trump sê Robert F Kennedy Junior sal ongelooflike dinge doen as minister van Gesondheid
# En, rugby: Die Bokke en Engeland pak mekaar die 24ste keer op Twickenham
# President Cyril Ramaphosa het gisteraand die land toegespreek oor die dood van minstens 22 skoolkinders weens voedseloordraagbare siektes. Om nog sterftes te voorkom het Ramaphosa aangekondig spazawinkels wat verbind word met die sterfte van skoolkinders sal onmiddellik gesluit word. Ramaphosa het ook opdrag gegee dat gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture op ‘n nasionale en provinsiale vlak op die been gebring word om die krisis te hanteer. Hy sê ‘n uiters gevaarlike chemikalie wat gebruik word as ‘n plaagdoder bekend as Terbufos is direk verbind met die dood van ses kinders in Naledi, Soweto.
Die president het bygevoeg die ongereguleerde gebruik van beperkte plaagdoders in gemeenskappe het toenemend ‘n probleem geword. Hy sê as deel van die ondersoek na die dood van ses kinders in Naledi, het inspekteurs by spazawinkels beslag gelê op ‘n aantal onwettige plaagdoders:
Ramaphosa het verder gesê ondernemings en winkels wat nie voldoen aan regulasies nie en verbind word met enige vergiftigingsgevalle, of betrap word met onwettige gevaarlike chemikalieë in voorraad, sal gesluit word. ‘n Reuseveldtog met deur-tot-deur inspeksies van alle spazawinkels, snoepwinkels en ander informele handelaars sal onderneem word, met Gauteng en KwaZulu-Natal eerste aan die beurt. Ramaphosa sê dit sal hanteer word deur inter-dissiplinêre inspeksiespanne:
# Die aangewese Amerikaanse president, Donald Trump, sê Robert F Kennedy Junior gaan ongelooflike goed regkry as die nuwe minister van Gesondheid. Die voormalige Demokraat was ook in die wedloop as ‘n onafhanklike presidentskandidaat maar het onttrek om Trump te ondersteun. Trump het hom in ruil daarvoor ʼn belangrike rol aangebied. Kennedy is ʼn bekende entstof-skeptikus wat by verskeie geleenthede waninligting versprei het, insluitend die valse teorie dat immunisering outisme by kinders veroorsaak. Sy aanstelling moet deur die Senaat bekragtig word waar hy teenkanting kan verwag weens sy standpunt oor gesondheidskwessies.
# En, rugby: Statistiek gaan nie van veel hulp wees om die uitslag te voorspel wanneer Suid-Afrika en Engeland vandag die 24ste keer op Twickenham in Londen kragte meet nie. Die Springbokke het 12 van die vorige wedstryde gewen en Engeland 11. Een van die vroegste kragmetings tussen die twee lande in 1932, het ‘n wêreldrekord opgelewer wat steeds staan. Die Bok-vleuel Jerry Brand het ‘n reuse skepdoel van 77,7-meter oorgeskop, van waar hy die bal getref het tot waar dit in die pawiljoen beland het. Die Bokke het 7-nul gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….