Nuus 07:00
BULLETIN 14 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement hoop Danny Jordaan se regsprobleme gaan nie SAFA ontwrig nie
# StatsSA sê daar was ‘n daling van 0,8-persent in die vervaardigingsektor
# En krieket: Indië klop Suid-Afrika en loop met 2-1 voor in T20-reeks
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Sport, Kuns en Kultuur sê hy hoop die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se president, Danny Jordaan, se regsprobleme sal nie die vereniging negatief raak nie. Hy word van bedrog en diefstal aangekla nadat hy volgens berigte sowat 1,3-miljoen-rand vir persoonlike doeleindes gebruik het. Jordaan en twee ander persone word aangekla: die vereniging se finansiële hoof, Gronie Hluyo, en die voormalige joernalis en tans sakeman, Trevor Neethling. Die komitee sê hy hoop die onsekerheid rondom Jordaan sal in ‘n ope hof aan die lig kom en dat reg sal geskied.
# Statistieke Suid-Afrika sê die land se vervaardigingsuitsette het in September met 0,8-persent gedaal, hoofsaaklik weens swak prestasie in die motorbedryf. Dit is die tweede maand dat uitsette afneem na ‘n daling van 1,2-persent in Augustus. Nicolai Claassen van StatsSa sê die produksie van motorvoertuie, onderdele en vervoertoerusting het met 18,7-persent gedaal, wat ‘n beduidende deel van die algehele afname was:
# Telkom het ʼn hofbevel bekom om ʼn klopjag op ʼn Johannesburgse maatskappy uit te voer wat beskuldig word dat hy gesteelde inligting gebruik om meer as een-duisend-300 van sy kliënte af te rokkel. ’n Franchise-werknemer het na bewering inligting van kliënte aan die derde party gegee wat dit gebruik het om kliënte onder valse voorwendsels weg te rokkel. Tydens Telkom en hofbeamptes se klopjag is beslag gelê op rekords en finansiële inligting vir die voortgesette ondersoek. Volgens News24 het die telekommunikasiereus kliënte wat geraak word gewaarsku en die Suid-Afrikaanse Inligtingsreguleerder is in kennis gestel.
# AfriForum waarsku Gauteng se premier Panyaza Lesufi om ondersoek in te stel na beweerde korrupsie by die wetgewer. Die wetgewer het met die vakbond Nehawu ooreengekom om aanklagte van bedrog en korrupsie teen 32 werknemers te laat vaar. Hulle sal nou teregstaan op mindere aanklagte van nalatigheid. Die werkers het bedrieglike eise ingedien en is in 2020 meer as 335-duisend-rand betaal vir reis- en verblyfkoste. Charné Mostert van AfriForum sê ʼn onafhanklike ondersoek moet gedoen word:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het dié land se ondersteuning aan Oekraïne bevestig in sy stryd teen Russiese aggressie en sy onomkeerbare pad na volle Euro-Atlantiese integrasie. Hy het die belofte Woensdag tydens ʼn besoek aan Brussel gemaak. Dit kom te midde van onsekerheid oor gekose president Donald Trump se standpunt oor die konflik tussen Oekraïne en Rusland. Blinken sê hulle sal voortgaan om Oekraïne te ondersteun in die maande voor Trump weer die presidentskap oorneem:
# Krieket: Indië het Suid-Afrika met elf lopies geklop in die derde T20 in Centurion, en loop met twee-een voor in die reeks van vier wedstryde. Tilak Varma het ʼn onoorwonne 107 van 56 balle aangeteken en die besoekers, wat eerste gekolf het, het 219 vir ses op die telbord geplaas. Die Proteas is daarna in hulle 20 boulbeurte tot 208 vir sewe beperk met die veelsydige Marco Jansen wat 54 bygedra het. Arshdeep Singh het drie paaltjies platgetrek. Die reeks se laaste T20 vind môre op die Wanderers plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-256-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-563-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….