Nuus 07:00
BULLETIN 13 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê dis belangrik om burgers eerste te stel
# Die EFF sê die afname in werkloosheid is nie noemenswaardig nie
# En ‘n New Yorkse regter stel die beslissing in Trump se swyggeldsaak uit
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die veranderende politieke landskap beteken hulle moet oor die politieke skeiding saamwerk om oplossings te vind om landsburgers eerste te plaas. Hy het die hoofrede gelewer by die Instituut vir Globale Betrokkenheid in Irene, Gauteng. Mbalula sê nie almal ondersteun die keuse van ‘n regering van nasionale eenheid nie en hulle respekteer die verskillende standpunte:
# Die EFF sê die dalende werkloosheidsyfer is misleidend en beteken nie ware ekonomiese groei of verbetering in die gehalte van werksgeleenthede nie. Statistieke Suid-Afrika het aangekondig Suid-Afrika se werkloosheidskoers het met 1,4 persentasiepunte afgeneem van 33,5-persent in die tweede kwartaal tot 32,1-persent in die derde kwartaal. Die EFF sê die syfers word hoofsaaklik bepaal deur wisselvallige werke in die informele sektor en deeltydse werkskeppingskemas van die regering, eerder as volhoubare, voltydse posisies in die formele privaat sektor.
# FlySafair het ʼn dringende aansoek ingedien om ʼn uitspraak te keer wat sy internasionale roetes bedreig weens die oortreding van regulasies oor buitelandse eienaarskap. Die internasionale bestemmings van FlySafair sluit in Mauritius, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek en Namibië. Volgens News24 is die redery van mening die beperking van die aanbod op hierdie roetes kan vlugtariewe laat styg en reisplanne ontwrig weens die hoë aanvraag hierdie somer. Die redery verseker passasiers binnelandse vlugte word nie geraak nie en onderneem om enige ontwrigting aan internasionale dienste te beperk.
# Die Stad Tshwane waarsku inwoners oor ‘n bedrogspul wat beweer hy aanvaar bitcoin vir munisipale rekeninge by kleinhandelwinkels. Die stad ontken daar is enige sodanige ooreenkoms en wys weer op die wettige maniere om te betaal, naamlik e-Tshwane, kliëntedienssentrums, kleinhandelwinkels en die Poskantoor. Woordvoerder Lindela Mashigo sê die stad waarsku teen hierdie bedrieglike aansprake en onderneem om die betrokkenes te vervolg:
# ʼn New Yorkse regter, Juan Merchan, het uitspraak of gekose president Donald Trump se skuldigbevinding in sy swyggeldsaak opgehef moet word, uitgestel. Trump is vroeër vanjaar skuldig bevind op 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het in ʼn poging om die 2016-verkiesing te beïnvloed. Regter Merchan moet besluit of die skuldigbevinding gehandhaaf word en Trump dan vonnis, en of dit uitgegooi word op grond van die Amerikaanse Hooggeregshof se besluit oor presidensiële immuniteit. Die saak is tot volgende Dinsdag uitgestel.
# Rugby: Die gewese Walliese skrumskakel Mike Phillips wil hê hoofafrigter Warren Gatland moet afgedank word na die naweek se nederlaag teen Fidji; hulle tiende in ‘n ry. Die Nieu-Seelander het in Desember 2022 teruggekeer nadat hy Wallis van 2007 tot 2019 afgerig het. Phillips het sy 94 toetse vir Wallis van 2003 tot 2015 gespeel. Hy sê Gatland lag al die pad bank toe sonder dat hy aanspreeklik gehou word, en verdien om uitgeskop te word soos hy met talle goeie Walliese spelers gedoen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-373-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-610-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….